Ontbloter moontlik weer aktief in streek

Dit het onlangs onder Die Hoorn se aandag gekom dat ’n ontbloter vroue teister. Volgens inligting wat ontvang is, het ’n man na bewering homself op onvanpaste wyse aan hulle ontbloot deur WhatsApp video oproepe. Hy bekom toegang tot verskeie WhatsApp groepe deur skakels waar hy de vroue se nommers kry, en van daar begin hy vroue teister.

Sy nuwe modus operandi gaan ook een stap verder, waar hy aan die vroue sê dat hy voor hul huise staan en ook hulle adresse ken.

Die Hoorn het kontak gemaak met die Prins Albert landdroshof, maar kon nie amptelik bevestig of daar tans ’n teisteringsaak teen die man op die rol is nie. Hy is wel in die verlede al verskeie kere deur die polisie gewaarsku oor sy onvanpaste gedrag. Sou Die Hoorn die nodige inligting bekom sal ons die hofverrigtinge bywoon sodat die oortreder se identiteit gepubliseer word. Ons doen ’n beroep op vroue wat moontlik geteister word om na vore te kom.

Slagoffers kan met Die Hoorn in verbinding tree, waarna hulp verleen sal word met die proses om ’n saak by die polisie te open sodat die persoon geïdentifiseer en gestop kan word.

Dit is nie die eerste keer dat Die Hoorn oor ’n soortgelyke voorval berig nie. In ’n vorige berig, “Die Hoorn ontbloot ’n ontbloter” in 2024, het die koerant reeds aandag gevestig op ’n man wat glo vroue in die streek geteister het deur homself aan hulle te ontbloot.

Die berig het destyds groot reaksie uit die gemeenskap gelok, waarna verskeie vroue na vore gekom het met soortgelyke ervarings. Die Hoorn het destyds ook ’n beroep op slagoffers gedoen om die voorvalle by die polisie aan te meld sodat die persoon gestop kan word en verdere teistering voorkom kan word. Met die nuwe voorvalle wat nou weer aangemeld word, blyk dit dat die probleem moontlik weer kop uitsteek.

Die Hoorn kon nog nie amptelik bevestig dat dit dieselfde persoon is wat hom in die verlede aan soortgelyke optrede skuldig gemaak het nie. Daar bestaan egter ’n sterk moontlikheid dat dit wel dieselfde man kan wees. (REDAKSIONELE SPAN)