Ondersoek kom: Munisipaliteit het slegs mandaat om skut te bedryf, nie hondehokke nie

Die burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Chris Macpherson, sê hy gaan ’n ondersoek laat doen oor die doen en late van dierewelsynorganisasies by die munisipale skut.

Macpherson het gistermiddag (Vrydag 23 Julie) by ’n perskonferensie gesê daar moet onder meer vasgestel word hoe fondse aangewend word wat deur dierewelsynorganisasies onder die vaandel van Oudtshoorn se diere en die munisipale skut ingesamel word, met bewyse en finansiële rekords.

Dit volg op ’n plasing van die dierewelsynorganisasie Oudtshoorn Dogs in Need (ODIN) Woensdag (21 Julie) dat hulle verbied is om verder saam met die munisipale skut te werk.

Macpherson sê dit is vir hom belangrik dat die bedryf van die munisipale skut binne wetgewing moet geskied. Die munisipaliteit het ’n mandaat om ’n skut te bedryf en nie hondehokke (“kennels”) nie, met ’n skut wat vir slegs sewe dae lank ’n heenkome vir diere mag bied.

“Hoe vra ’n organisasie op Facebook vir fondse om hul veeartsrekeninge te betaal, wanneer die munisipaliteit byna vir elke dag van Junie veeartsrekeninge ontvang het? Volgens my personeel is daar tans net drie honde wat deur die munisipaliteit geskut is en meer as sestig honde van ’n dierewelsynorganisasie by die skut. Daar is ook ’n paar beeste, skape en donkies.

“Ons mandaat is nie om diere wat geskut word elke dag van die maand veearts toe te neem nie,” het hy gesê. Macpherson het die rekeninge aan die pers gewys.

Hy het voorts in reaksie op bewerings dat die munisipaliteit nie weet hoe dit by die skut lyk nie, gesê dat hy self betrokke geraak het, weet hoe dit daar lyk en onder meer ook die perseel in George besoek het waarheen honde van Oudtshoorn af verwyder word.

Hy sê daar word al baie jare lank nie altyd tussen ’n skut en “kennels” onderskei nie. In die lig daarvan is hy bekommerd oor mense wat sê hulle het gehelp of was betrokke by die insameling van items soos kos, komberse en geld vir die skut.

“As jy geld insamel, moet jy geregistreer wees as ’n NPO of NGO en moet dan verantwoordbaar wees vir daardie geld. My vraag is, kan enige organisasie vir my hul boeke wys en bewys en terugrapporteer aan diegene by wie jy die geld gekry het oor wat daarmee gedoen is?”

Volgens Macpherson gaan die munisipaliteit nie meer ‘n organisasie aanstel om die skut te bestuur nie, maar dit self doen. Hy sê hoewel daar al drie keer voorheen tenders geadverteer is vir die bestuur van die skut was daar met die mees onlangse tenderproses geen aansoek wat aan die vereistes voldoen het nie.

Die drie huidige personeellede van die skut sal eersdaags ook opleiding as wetstoepassers ontvang sodat hulle sal kan optree wanneer wetgewing oortree word. (Deur Stefan Skapie Goosen)