Johan Wagener, bekende prokureur van Oudtshoorn, het hoog gevlieg vir sy 70ste verjaarsdag. Foto verskaf
Deur Liesel le Roux
DIT was ’n onbeskryflike ervaring, sê Johan Wagener, bekende prokureur van Oudtshoorn, oor ’n tandemsprong wat hy vroeër vanjaar op sy 70ste verjaarsdag gedoen het.
Dié sprong was iets wat hy al lankal wou doen, maar hy het besluit om te wag vir ’n spesiale geleentheid, sê Wagener.
“Ek het ’n ding oor datums en het besluit ek gaan vir my 70ste verjaarsdag op 20 Februarie dié sprong doen. Wat dit nog beter gemaak het, was dat my hele familie die dag saam met my in Mosselbaai was.”
Volgens hom was dit absoluut die wag werd en nog baie beter as wat hy verwag het.
“Die eerste veertig sekondes wat jy vryval teen 233 km per uur, was ongelooflik. Dis eintlik onmoontlik om daardie ervaring te beskryf. En as die valskerm oopgaan, is daar skielik net ’n onbeskryflike stilte. En saam met dit sien jy so ver – aan die een kant die see, en aan die ander kant die land.
“En dan is daar ook daardie adrenalien wat deur jou liggaam loop wanneer jy uiteindelik land; jy kan dit nie beskryf nie.”