Twee mede-studente na bewering die oortreders
DIE Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) sal besluit of twee weermagstudente vervolg gaan word vir die beweerde verkragting van ’n 19-jarige mede-student verlede week op Oudtshoorn.
Volgens kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van die Suid-Kaapse Polisie, is die dossier van die beweerde verkragting ná ’n volledige ondersoek aan die Vervolgingsgesag oorhandig vir ’n besluit.
Die streeks-staats-aanklaer het reeds met die 19-jarige student ge-konsulteer.
Pojie sê die beweerde verkragting van die jong vrou deur twee manlike mede-studente het omstreeks 20:20 op 7 Junie plaasgevind. Sy het dit op 8 Junie aan die Polisie gerapporteer nadat ’n vriendin opgemerk het dat sy nie goed lyk nie en haar geadviseer het om dit aan te meld toe sy van die beweerde verkragting hoor.
Volgens Pojie was die klaagster baie emosioneel ná die voorval en wou sy aanvanklik nie die identiteit van die twee mans bekend maak nie omdat sy bang was dat mense haar sal oordeel en blameer.
Sy is vir mediese hulp na die Oudtshoorn Hospitaal geneem.