Die opening van die nuwe Africa Skills Cango Academy in Adderleystraat, Oudtshoorn, is Dinsdag, 1 September, met groot entoesiasme ontvang en voeg ’n belangrike nuwe opleidingsgeleentheid tot die dorp en die breër Klein Karoo toe.
Die belangstelling in die nuwe sentrum was reeds tydens die openingsgeleentheid duidelik. Organiseerders het aanvanklik vir sowat 80 gaste voorberei, maar ongeveer 150 mense het opgedaag, wat meegebring het dat die verrigtinge uit die saal na buite verskuif moes word.
Cango Wildlife het na die opening gesê ’n droom het werklikheid geword. Volgens hulle het wat as ’n idee begin het, gegroei tot ’n gedeelde visie wat uiteindelik gelei het tot die opening van Africa Skills Cango Academy deur die samewerking tussen Cango Wildlife en Africa Skills/UXi.
Hulle het ook gesê die bekendstelling het alle verwagtinge oortref en dat hulle oorweldig is deur die groot opkoms van die gemeenskap, belanghebbendes en verteenwoordigers van regoor die land.
Die sentrum, wat by 291 Adderleystraat gevestig is, is daarop gemik om beroepsgerigte vaardigheidsopleiding nader aan inwoners van Oudtshoorn en die Klein Karoo te bring en terselfdertyd ’n sterker plaaslike vaardigheidspyplyn vir werkgewers en ondernemings te help ontwikkel.
Die geleenthede is reeds vir van die eerste studente ’n werklikheid. Twintig studente het borgskappe ontvang om hul opleiding by die akademie te voltooi, terwyl daar reeds vir 50 studente werksgeleenthede beskikbaar is wanneer hulle hul opleiding voltooi.
Dit beteken dat hulle die akademie met ’n werk en ’n gewaarborgde salaris kan verlaat. Die projek het ontstaan uit ’n vennootskap tussen Africa Skills en Cango Academy, met Cango Wildlife Ranch as ’n belangrike vennoot in die vestiging daarvan.
Die opening is deur die Van Reede Seniorkoor ingelui, waarna verteenwoordigers van die opleidingsbedryf, plaaslike regering, die Tuinroete- distrik en Wesgro die gaste toegespreek het.
Onder die sprekers was Douglas Eriksen, uitvoerende hoof van Cango Wildlife; Elsie Harmse, uitvoerende hoof van Africa Skills en UXi Artisan Development; Sinaye Jonas, direkteur van Beplanning en Ontwikkeling by die Oudtshoorn Munisipaliteit; Oudtshoorn se uitvoerende burgemeester, Jan van der Ross; Tuinroete-distriksburgemeester Marais Kruger; Tembisa Mguzulo, Wesgro se Edu-Invest-portefeuljebestuurder; en Garrett Eriksen, akademiese direkteur van Cango Academy. Twee studente van die Cango Academy het ook tydens die geleentheid die woord gevoer.
Douglas Eriksen het gesê die opening gaan oor meer as bloot die vestiging van ’n nuwe fasiliteit. “Vandag gaan nie bloot oor die opening van ’n fasiliteit nie. Dit gaan oor die opening van nóg ’n deur. Wanneer vaardigheidsontwikkeling meer toeganklik vir gemeenskappe word en terselfdertyd nou verbind bly aan werkgewers, kan geleenthede aan beide kante groei.”
Die akademie bied aan skoolverlaters en ander voornemende studente die geleentheid om nader aan die huis toegang tot erkende, beroepsgerigte opleiding te kry. Vir plaaslike werkgewers skep dit terselfdertyd ’n geleentheid om nouer met ’n opleidingsinstelling saam te werk rondom vaardigheidsontwikkeling en toekomstige werksbehoeftes.
Die nuwe Oudtshoorn-akademie brei Africa Skills se bestaande opleidingsvoetspoor in die Suid-Kaap verder uit en sal in noue samewerking met die Africa Skills GeorgeTech- en Ntaka-kampusse funksioneer.
Drie leerderinnames word jaarliks beplan, naamlik in Februarie, Mei en September, met die eerste groep studente wat reeds gedurende September met opleiding begin.
Volgens Phillip Harmse van Africa Skills gee die vennootskap aan die akademie ’n besondere Oudtshoorn-karakter deur ’n gevestigde opleidingsorganisasie te verbind met ’n onderneming wat reeds sterk met die streek se toerisme- en bewaringsbedryf verweef is.
Die doel is dat die akademie saam met die plaaslike gemeenskap en ekonomie sal groei en mettertyd opleiding sal bied wat aansluit by die vaardigheidsbehoeftes van werkgewers en bedrywe in die streek.
Die formele verrigtinge is met ’n lintknipseremonie afgesluit, waarna gaste die nuwe kampus kon besigtig, vrae kon stel en die span agter die akademie kon ontmoet.
Lede van die publiek kry reeds hierdie Saterdag, 5 September, van 09:00 tot 14:00 ’n geleentheid om self te gaan kyk wat die akademie bied wanneer ’n gemeenskapsopedag aangebied word. Belangstellendes kan die kampus besoek, meer oor die opleidingsgeleenthede uitvind en met die span agter Cango Academy gesels. Vir verdere besonderhede oor die opedag kan Cango Wildlife en Africa Skills se sosialemediablaaie dopgehou word. (MALISSA SPIES)
