’N NUWE Afrikaanse rolprent, Klein Karoo Twee, word tans buite Oudtshoorn in die omgewing van die Swartberge verfilm. Dit volg op die rolprent Klein Karoo met Tim Theron en Donnalee Roberts in die hoofrolle wat in 2013 daar verfilm is en tydens sy openingsnaweek in Februarie daardie jaar die tweede gewildste rolprent in Suid-Afrika was.
Talle bekende akteurs is betrokke by die nuwe rolprent, onder meer Leandie du Randt (Jagveld), Marciel Hopkins (aanbieder van Boer Soek ’n Vrou 2020), Nicole Fortuin (Klein Jakkalsies), Sisanda Henna (Klein Karoo, Rogue Movie) en Hykie Bergh (Binnelanders). Tim Theron is ook weer in die rolprent te sien.
En net soos met die verfilming van die eerste rolprent in 2013, sal inwoners van die dorp en omgewing nou weer die geleentheid kry om as ekstras in sekere tonele op te tree. Verskeie Oudtshoorniete was juis vandeesweek betrokke by ’n huwelikstoneel wat Woensdag en vroeg Donderdagoggend geskiet is.
Van die akteurs het die afgelope ruk foto’s en videos op sosiale media gedeel van die Swartberg Country Manor wat hul basis is tydens verfilming asook die Klein Karoo-omgewing.
Die regisseur van die rolprent is Liezl Spies, met Cobus van den Berg en Tim Theron as vervaardigers. (Deur Stefan Skapie Goosen)