Noue ontkoming met buffel by Oudtshoorn

Die Amerikaanse jagter by die buffelbul.

Henko Schoeman wat beseer is toe die buffelbul hom met die horings geskep het.

Henko Schoeman (23), ’n student van Oudtshoorn, het gister (Donderdag, 25 Julie) ’n noue ontkoming op die plaas Buffelsdrift noord van Oudtshoorn, gehad toe ’n gekweste buffelbul hom bestorm en gekarnuffel het. 

Die buffel is Woensdagmiddag laat deur ’n Amerikaanse jagter met ’n kruisboog in die maag gekwes. Aangesien dit reeds skemer was, het die jaggeselskap besluit om die buffel eers die volgende oggend te gaan soek met die hoop dat hy deur die nag sal doodbloei.

Schoeman, wat nie deel van die jaggeselskap was nie, het toe gisteroggend saam met onder andere die beroepsgrootwildjagter Danie van Jaarsveld wat die jagtog gereël het,  gestap toe laasgenoemde die buffel gaan soek het.

Hulle het die buffel gevind waar hy tussen doringbosse gelê het. Terwyl hulle gekyk het of die buffel nog lewe, het ’n hond wat saam met hulle was, begin blaf en het die buffel opgespring en hulle bestorm. Schoeman en Van Jaarsveld het altesame vier skote op die aanstormende buffel geskiet waarvan drie hom in die longe getref het en een teen die horing.

Die verwoede buffel het egter steeds bly storm. Schoeman en Van Jaarsveld het toe in verskillende rigtings gespat. Die buffel is agter Schoeman aan en het hom met sy horings geskep en in die lug opgegooi. 

Daarna het die buffel hom onder ’n doringbos in gestoot waar hy hom met die horings vasgedruk het. Terwyl die buffel nog besig was om Schoeman te karnuffel, het Van Jaarsveld die buffel in die ruggraat geskiet waarna Schoeman weggekom het. Van Jaarsveld het die buffel daarna nog ’n keer geskiet waarna die buffel gevrek het. Die buffel het sowat 800 kg geweeg.

Schoeman se skouer is in die aanval ontwrig, hy het ’n stamp op die niere gekry en het verskeie kneusplekke opgedoen. Hy is gisteroggend in die Mediclinic Klein Karoo opgeneem en was oornag daar vir waarneming. Hy is vanoggend ontslaan.

Schoeman het vanoggend aan Die Hoorn gesê hy is baie dankbaar dat hy so lig daarvan afgekom het.

Van Jaarsveld, wat al 25 jaar lank ’n beroepsgrootwildjagter is, het vanoggend aan Die Hoorn gesê die geweer wat hy as bystand vir die boogjag gebruik het, is ’n 375-kaliber wat doeltreffend op ’n kort afstand is. Die geweer wat Schoeman gehad het, is ’n 3006-kaliber met ’n verstelbare teleskoop wat geskik is om ’n dier doeltreffend en akkuraat oor ’n lang afstand te skiet en wat gebruik word as ’n dier bv weghardloop.

(‘n Video van die voorval verskyn op Die Hoorn se Facebookblad.)