Die foto is deur ’n inwoner van Dysselsdorp aan Die Hoorn gestuur en was na verneem word een van verskeie brande wat gestig is tydens protesoptrede van ontevrede tydelike werkers van die munisipaliteit op Dysselsdorp.
Deur Liesel le Roux
PROTESOPTREDE en stakings deur tydelike munisipale werkers op Dysselsdorp het daartoe gelei dat die munisipale kantore daar se deure van Maandag tot Donderdag gesluit was en dienslewering erg ontwrig is.
Tussen Dinsdag en Donderdag is die deure deur die stakende werkers self met slotte gesluit.
Volgens terugvoer wat Die Hoorn op navrae van die munisipaliteit ontvang het, het tydelike werkers betrokke by die Expanded Public Works Programme (EPWP) tot protesoptrede oorgegaan omdat hulle gehoop het dat hulle vir drie maande lank aangestel sou word, maar toe slegs vir drie weke aangestel is.
Na samesprekings en ’n vergadering deur die munisipale bestuurder, Allen Paulse, direkteure en die waarnemende dorpsbestuurder van Dysselsdorp, Vuyisa Forplay, is ’n ooreenkoms bereik dat die werkers se aanstelling vir twee maande geldig sal wees.
Die staking is hierna afgelas.