Kannaland-Vasbyt trek groot getalle

Vasbyters geniet Kannaland se lekker weer. Foto: Deon Meyer

Deur Deon Meyer
VASBYT! Hou bene, hou!

Dit is die kern van die jaarlikse Kannaland-Vasbyt wat reeds meer as ’n dekade lank jaarliks op Ladismith aangebied word. Verlede naweek was dit weer sulke tyd met groot groepe stappers wat in taxi’s en ander staatsvoertuie hierheen opgetrek het.

Reeds van die Vrydag af was die dorp ’n miernes van bedrywighede.

Die hoofstraat was die kern van die stappers waar hulle onder groot toejuiging deur toeskouers aangemoedig is.

AO Isaac Campher, een van die organiseerders, was ’n tevrede man.

“Die Vasbyt was goed georganiseer en die gees was reg. Die manne en vroue was superfiks en geen ernstige ongevalle is aangemeld nie.”

Fikse stappers van regoor die Suid-Kaap en Boland het die 30 km-staptog in spanne aangedurf.

Monray Oerson, lid van die Towerkop Stappers van die Laerskool Towerkop, wie se span in hulle afdeling koning gekraai het, het gespog: “Ons is die beste. Die manne moet by ons kom leer wat spangees is. Dis ons wensresep. Glo my volgende jaar maak ons weer so!”