Nog twee van die baljukantoor skuldig

Louwayne Wagenaar.  Foto: Facebook

Deur Angelique Erasmus
TWEE adjunk-balju’s van Oudtshoorn wat skuldig bevind is op verskeie aanklagte, Louwayne Wagenaar en Daniel Wagenaar, sal onderskeidelik op 6 en 16 November gevonnis word.

Louwayne Wagenaar is verlede Donderdag in die Oudtshoorn Landdroshof op 13 aanklagte skuldig bevind – sewe van bedrog, twee van vervalsing en vier van meineed.

Daniel Wagenaar is vroeër skuldig bevind op agt aanklagte van bedrog nadat hy aanvanklik op 16 aanklagte van bedrog in die hof verskyn het.

Wagenaar is die vise-sekretaris van die Bridgton Rugbyklub.

Benito Metembo, voorsitter van die Bridgton Rugbyklub, het albei adjunk-balju’s verteenwoordig.

’n Derde adjunk-balju, Nigel Cupido, is reeds op 9 Oktober deur landdros Johan Steynberg tot ’n boete van R8000 of ses maande tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is op 14 aanklagte van bedrog.