Nog droogtehulp

Kratte word afgelaai van die dubbelsleepwa-trok wat droogtehulp vanuit Kaapstad na Oudtshoorn gebring het. Foto Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
DIE South African Water Warriors het Saterdag Oudtshoorn weer besoek met hulp vir boere in nood.

Dié nie-winsgewende organisasie wat in April ook skenkings na Oudtshoorn gebring het, se dubbelsleepwa-trok het 30 ton makataan, 80 sakkies aartappels van 10 kg elk en sowat 20 sakkies uie van 7 kg elk vanaf Kaapstad gebring.

Die trok het Saterdagoggend eers in Volmoed gestop waar tweederdes van die vrag afgelaai is, en die res is daarna na die Rooiheuwel-omgewing gestuur waar boere en werkers van die gebied dit afgelaai en verdeel het.

Pieter du Plessis van die Water Warriors sê hulle beoog om in Julie weer skenkings na Oudtshoorn te bring. Enige persoon wat betrokke wil raak by die projek, kan van die SA Water Warriors kontak op 076 844 6435.