Deur Garnett Wicomb
’N NIGERIESE burger wat langer as twee jaar in aanhouding was op Oudtshoorn is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof onskuldig bevind en ontslaan.
Streeklanddros Retha Pretorius het Samuel Orama vrygespreek op al die aanklagte teen hom en bevind dat hy ook nie daaroor ingelig is dat hy teen sy onsuksesvolle aansoek om asiel kon geappelleer het nie.
Die saak teen Orama het sy oorsprong op 8 Mei 2017 gehad toe hy ’n passasier was in ’n voertuig waarin die polisie ’n rooi sak met dwelms gevind het.
Orama het verskeie kere verskyn op aanklagte van die besit van en handeldryf in dwelms asook die oortreding van die immigrasiewet nadat hy op 8 Mei 2017 saam met drie ander verdagtes buite
Oudtshoorn in hegtenis geneem is nadat die polisie ’n verdagte voertuig op die George-pad van die pad getrek en deursoek het. In die voertuig was ’n rooi sak met tik van sowat R3,6 miljoen.
Die klagtes teen die drie ander verdagtes is deur die staat teruggetrek.
Orama het volgens die ondersoekbeampte, ao Jacobus Groenewald, probeer weghardloop, maar is deur lede van die polisie ingehaal en in hegtenis geneem. Nadat almal hul sakke uitgeken het, was daar nog ’n rooi sak met die dwelms wat niemand wou eien nie.
Die bestuurder van die voertuig het getuig dat hy Orama en nog twee rylopers ’n geleentheid gegee het, maar nie ag geslaan het op watter sakke hulle in die kattebak gelaai het nie.
Die streeklanddros het die afleiding dat die rooi sak aan Orama behoort het, verwerp.