Na die storms: Wie betaal die prys?

Foto: Johann Coetzer

Die volle finansiële en maatskaplike impak van die onlangse storms en oorstromings sal waarskynlik eers oor maande of selfs jare duidelik word, aangesien skade aan infrastruktuur, die ekonomie en gemeenskappe verder ontvou.

Dit is die boodskap van die Tuinroete- omgewingsforum (GREF), wat daarop wys dat die sigbare skade na ’n ramp slegs ’n deel van die werklike koste verteenwoordig.

Terwyl nooddienste en rampbestuurspanne vinnig paaie oopmaak, bome verwyder en noodsaaklike dienste herstel, word onderliggende skade aan infrastruktuur dikwels eers later ontdek.

Volgens die GREF beklemtoon die onlangse storms hoe kwesbaar gemeenskappe, infrastruktuur en natuurlike ekostelsels vir uiterste weerstoestande is. Die forum waarsku dat klimaatsverandering sulke gebeure meer gereeld en meer intens maak, wat groter druk op munisipaliteite en ander rolspelers plaas.

Vroeër vandeesmaand het die Tuinroete-distriksmunisipaliteit (GRDM) bekend gemaak dat voorlopige skadebepalings na die storms meer as R500 miljoen beloop. Die grootste skade is in George, Knysna en Bitou aangemeld, terwyl Oudtshoorn ook aansienlike skade aan infrastruktuur opgedoen het.

Onder die grootste projekte wat herstelwerk benodig, is:
• R70 miljoen vir elektrisiteitsinfrastruktuur in die Groter Oudtshoorn-gebied.
• R46,6 miljoen vir straat- en stormwaterskade, insluitend die laagwaterbrûe in Oudtshoorn.
• R5,7 miljoen vir water- en sanitasie-infrastruktuur in Groter Oudtshoorn, Dysselsdorp en die Klein Karoo-streekwaterstelsel.

Volgens die GRDM gaan die fokus nie net oor herstelwerk nie.

Die munisipaliteit werk saam met ander regeringsvlakke om befondsing te bekom, maar sê ook dat belegging in beter en sterker infrastruktuur noodsaaklik is om die impak van toekomstige uiterste weerstoestande te verminder.

Om die lesse uit die onlangse storms te bespreek en praktiese oplossings vir die toekoms te vind, bied die GREF en sy vennote, in samewerking met die Nelson Mandela Universiteit (NMU), op 2 Julie 2026 die Garden Route Extreme Weather Reflection Summit aan.

’n Paneel kundiges in klimaatwetenskap, omgewingsbestuur en rampbestuur sal die onlangse weergebeure ontleed en saam met belanghebbendes praktiese maniere ondersoek om die Tuinroete beter vir toekomstige uiterste weerstoestande voor te berei en die streek se veerkragtigheid te versterk.

Belangstellendes wat dit wil bywoon, kan RSVP deur ’n e-pos na louisamare@gmail.com te stuur.