’n Eerste vir Jada en Oudtshoorn

Oudtshoorn se Jada Coetzee wat aangewys is as Suid-Afrika se beste trompoppieleier in die Large Drill-afdeling by die pas afgelope nasionale trompoppiekampioenskap in Oos-Londen. Foto verskaf

Deur Liesel le Roux
OUDTSHOORN en die Laerskool Van Reede spog vanjaar met ’n skitterende eerste plek by die SA Trompoppiekampioenskap!

Die prestasie – ’n eerste vir Oudtshoorn – volg nadat Jada Coetzee (13) verlede week aangewys is as die land se beste trompoppieleier in die Large Drill-afdeling by die kampioenskap wat in Oos-Londen plaasgevind het.

Jada het vandeesweek aan Die Hoorn gesê sy was baie bly toe sy hoor sy is die wenner van dié afdeling. “Drummies vereis lang ure se oefe­ning in wind en weer, dissipline en baie opofferings. Jy moet ook weet hoe om jou tyd goed te benut, want ons skoolwerk is ook belangrik,” sê sy.

Jada is ’n gedugte sportvrou en is verlede jaar as Oudtshoorn asook die Eden Distrik se Laerskole Sportvrou van die Jaar aangewys. Sy blink op nasionale en provinsiale vlak ook uit in swem, twee­kamp, atletiek en hokkie.

Jada sê sy is baie dankbaar vir die geleenthede wat sy by haar skool gegun word om al haar sportvaardighede te ontwikkel.

En die toekoms? Jada sê sy beoog om nou te fokus op swem, haar gunstelingsport.

• Oudtshoorn se trompoppiespanne het vanjaar weer goed gepresteer en getoon waarom hulle ge­kwalifiseer het om in die nasionale kampioenskap se topliga, die Elite-liga, deel te neem.

Die Laerskool Van Reede se trompoppies was algeheel sesde nadat hulle die derde jaar agtereenvolgens in al hul afdelings vir die eindronde gekwalifiseer het en onder die toptien geplaas is. Hulle was vierde in die Baton Group, vyfde in die Large Drill, sesde in die Pom Non Prop en die Small Drill en sewende in die Mace Group en Flag Group.

Die span van die Hoërskool Oudtshoorn het vanjaar ook in al hul afdelings die eindronde gehaal – die eerste keer dat hulle dié prestasie behaal teen die groot skole waarteen hulle meeding. Die span was agtste in die Large Drill, Small Drill, Mace Group en Baton Group, en negende in die Pom Non Prop en Flag Group.

Sacred Heart se trompoppies was in die eind-ronde tiende in die Pom Non Prop en Mace Group, twaalfde in die Large Drill en veertiende in die Baton Group, terwyl die span van Bridgton Sekondêr elfde was in die Baton Group.