Musikant se borgaansoek weer uitgestel

Die borgaansoek van ’n musiekonderwyser van Oudtshoorn wat van seksuele aanranding, seksuele gereedmaking en statutêre verkrag-ting van ’n minderjarige aangekla word, is Maandag in die Oudtshoorn landdroshof vir voortsetting tot 17 Februarie uitgestel.

Die pianis wat musiekklasse aanbied is op 10 Januarie in hegtenis geneem. Sy borgtogaansoek het op 28 Januarie in die streekhof begin en het Maandag 10 Februarie voortgegaan.

Die saak is Maandag verdaag na die verstryking van die dag se hoftyd met die ondersoekbeampte, Ao Wanita Uys, wat steeds in die getuiebank is.

Uys het getuig dat die klaer die applikant vertrou het omdat, volgens haar, hy soos ’n pa teenoor haar opgetree het.

Hy het sy vertrouensposisie egter misbruik en sy voel dat hy in aanhouding moet bly.

Die klaer se moeder was volgens Uys baie geskok toe sy van die gebeure te wete gekom het en wil net sien dat die beskuldigde wegbly van haar kind ongeag of hy borgtog kry of nie.

Die applikant se regsverteen- woordiger, Charnelle Nel-Bruce, het ’n brief van ’n tante van die applikant voorgelees waarin sy sê dat die familie finansieel sukkel om kop bo water te hou sonder die steun van die applikant.

Die aansoek word deur landdros N Khan aangehoor en Leonie van Rooyen verskyn namens die staat. (GARNETT WICOMB)