Museum open sy deure weer!

Die pragtige CP Nel Museum in Oudts­hoorn open Maandag weer sy deure vir die publiek. Foto: Christine Schoeman

DAAR is goeie nuus vir liefhebbers van geskiedenis, skole en toeriste wat Oudtshoorn besoek: die CP Nel Museum open weer sy deure!

Volgens Moses Mthethwa, bestuurder van die museum, open die deure weer vir die publiek op Maandag 21 September nadat die museum byna ses maande toe was weens die Covid-19-inperking.

Mthethwa sê die minister van sport, kuns en kultuur het op 11 September toestemming verleen dat die museum weer kan open.

Streng regulasies sal vir besoekers geld. Net 36 besoekers sal op ’n slag in die gebou toegelaat word, plus die 14 personeellede wat daar werk.
Die dra van maskers deur besoekers is verpligtend is, mense se koors word gemeet en hande gereinig alvorens die gebou betree kan word. Hand­reinigingstasies sal ook tydens toere in die gebou beskikbaar wees.

Die museum sal Maandae tot Vrydae tussen 09:00 en 15:00 oop wees, maar gesluit wees op openbare vakansiedae asook Saterdae en Sondae.

Navrae kan gerig word aan Mthethwa by tel 044 272 7306 / e-pos manager@cpnelmuseum.co.za of moses.mthethwa@westerncape.gov.za. (Deur Stefan Skapie Goosen)