Die Oudtshoorn Munisipaliteit het sy ouditmening vir die 2015/2016-boekjaar verbeter – iets waaroor daar dié week groot dankbaarheid by die munisipaliteit was.
Die Ouditeur-Generaal het die munisipaliteit ’n gekwalifiseerde ouditmening vir die 2015/2016-boekjaar gegee, ’n verbetering van die ongunstige ouditmening van die vorige boekjaar. Die oudit-menings is die naweek bekend gemaak.
Nou mik Oudtshoorn na ’n skoon ouditmening vir die 2016/2017-boekjaar, sê die burgemeester, Colan Sylvester. 23 van die 30 Wes-Kaapse munisipaliteite het skoon ouditmening van die Ouditeur-Generaal ontvang.
Volgens Sylvester is die verbetering op Oudtshoorn toe te skryf aan die ingryping van die intervensiespan wat na Oudtshoorn gestuur is toe die munisipaliteit onder administrasie geplaas is.
“Ons is gelukkig dat die munisipaliteit van die lede van die intervensiespan wat tot die verbetering bygedra het, kon behou,” het hy gesê. Onder hulle is die waarnemende munisipale bestuurder, Allen Paulse, en finansiële hoof, Felix Lotter wat albei deur die Wes-Kaapse regering van die Bitou Munisipaliteit na Oudtshoorn gestuur is. Bitou het die afgelope drie boekjare drie agtereenvolgende skoon ouditmenings gekry.
Sylvester het gesê die munisipaliteit implementeer tans die finansiële herstelplan noukeurig en streef na ’n finansieel stabiele munisipaliteit wat effektiewe diens lewer.
Die Wes-Kaapse minister van finansies, Ivan Meyer, en die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, het albei hul tevredenheid uitgespreek oor die vordering wat binne die Oudtshoorn Munisipaliteit gemaak is.