Munisipaliteit onderhandel met Transnet oor smeulende steenkool

ONDERHANDELINGE met Transnet oor die verwydering van ondergrondse steenkool op ’n terrein langs Smartie Town duur voort, het die munisipale bestuurder van die Groter Oudtshoorn, Allen Paulse, gisteroggend tydens ’n spesiale raadsvergadering gesê.

Volgens Paulse is Oudtshoorn nie die enigste dorp in die land waar Transnet destyds steenkool gestort het en dit begin smeul wanneer dit nat word nie. Hy het gesê Transnet het aangedui dat hy die verantwoordelikheid daarvoor op sy skouers neem.

’n Komitee wat inwoners van Smartie Town insluit, is op die been gebring en daar word nou op Transnet gewag om die pad vorentoe aan te dui het Paulse gesê.

Hy is van mening dat die stuk grond waarop PSP hout stort en wat deur die gemeenskap opgetel word, in geheel gerehabiliteer behoort te word. Volgens hom moet die steenkool wat etlike meters onder die grond lê, verwyder word.