Minister komplimenteer hospitaal

Die Wes-Kaapse minister van gesondheid het vergader met die Prins Albert-hospitaalraad en die burgemeester, raadsheer Goliath Lottering (links). By hom is Barbara Gorniak, voorsitter van die raad, Jakoba Visagie, dr Normafrench Mbombo, Linda Jaquet (onderburgemeester), Wilfred Erasmus (verplegingsbestuurder, primêre gesondheidsorg: Beaufort-Wes, Merweville, Leeu-Gamka), matrone Lidie Gous en dr Leon Lerm.

Die Wes-Kaapse minister van gesondheid het vergader met die Prins Albert-hospitaalraad en die burgemeester, raadsheer Goliath Lottering (links). By hom is Barbara Gorniak, voorsitter van die raad, Jakoba Visagie, dr Normafrench Mbombo, Linda Jaquet (onderburgemeester), Wilfred Erasmus (verplegingsbestuurder, primêre gesondheidsorg: Beaufort-Wes, Merweville, Leeu-Gamka), matrone Lidie Gous en dr Leon Lerm.

PRINS ALBERT HOSPITAAL lewer puik plattelandse gesondheidsdiens, en sulke dienste is net so belangrik op die platteland as in stedelike gebiede.

Dit was die boodskap van die Wes-Kaapse mi­nis­ter van gesondheid, dr Normafrench Mbombo, toe sy en amptenare van die departement die Prins Albert Provinsiale Hospitaal verlede Woensdag (25 Januarie) besoek het.

Hul besoek aan Prins Albert was deel van ’n kort toer van die Sentraal-Karoo-distrik sodat die mi­nis­ter haar van gesondheidsgeriewe in die streek kon vergewis.

Sy het ook samesprekings gehou met die raad van die Prins Albert-hospitaal. Die burgemeester van Prins Albert, raadsheer Goliath Lottering, het haar op die besoek aan die hospitaal vergesel.

“Gemeenskapsbetrokkenheid is uiters belangrik vir ons. Ons doel vir 2017 is om pasiëntgerigte dienste te lewer en om terugvoering te kry van pasiënte oor hul ervaring van die gesondheidsdiens wat hulle ontvang het,” het Mbombo gesê.

Gehaltegesondheidsorg was een van die dieptebesprekingspunte tydens die minister se vergadering met die hospitaalraad. Sy het terselfdertyd die voorsitter van die hospitaalraad, Barbara Gorniak, aangewys as ’n lid van die distriksgesondheidsraad van die Sentraal-Karoo. Dié aanstelling sal verseker dat die hele gemeenskap van Prins Albert by die distriksgesondheidsraad verteenwoordig word, het sy gesê.

Inwoners van Merweville, Leeu-Gamka en Klaastroom moet ook by die raad ingesluit word, is op die vergadering besluit, en daarom is nominasies vir geskikte persone verkry.

“Dit is om te verseker dat alle gemeenskappe in die omgewing in die raad verteenwoordig word,” volgens Nadia Ferreira, hoofkommunikasie­beampte van die Wes-Kaapse gesondheidsdiens (Eden- en Sentraal-Karoo-distrik).”

Die huidige bestuurslede is Gorniak, Linda Jacquet (onderburgemeester, Prins Albert), Jakoba Visagie, dr. Leon Lerm (Prins Albert-hospitaal), dr Jill Gauntlett, Pieter Theron en dr Henry Basson.

Volgens Ferreira het die uitstekende toestand en instandhouding van die gesondheidsgieriewe by die Prins Albert-hospitaal, asook die goeie bestuur van die dorp self sowel as dié hele plattelandse gebied die minister beïndruk. “Die personeel en hospitaalbestuur moet gekomplimenteer word vir die puik toestande by die hospitaal.”