Deur Schalk le Roux
EINDE goed alles goed! Ná voortgesette onderhandeling met die Oudtshoorn Munisipaliteit se verkeersafdeling is tot ’n vergelyking gekom en gaan die verkeersafdeling nou wel hand bysit met verkeersbeheer tydens die jaarlikse Timbercity Padfietsren wat Sondag, 29 September, plaasvind.
Corné Bence, president van Fietsry Wes-Kaap wat by die organisasie van die ren betrokke is, sê die roete is egter effens aangepas deurdat dit by Kleinplaas op die hoek van Jan van Riebeeckweg en Noordstraat gaan begin en eindig, en nie meer by Brian’s Grill nie.
Die registrasie vir die padfietsren en die prys-uitdeling ná die ren gaan egter steeds by Brian’s Grill plaasvind.
Nadat die verkeersafdeling vroeër ’n kwotasie van R37760 gegee het vir verkeersbeheer tydens die ren, het Bence gesê teen dié prys sal die organiseerders van die ren nie dié afdeling se dienste kan bekostig nie. Ná verdere onderhandeling tussen Bence en die verkeersafdeling is daar egter tot ’n bekostigbare ooreenkoms gekom, en sal die munisipale en provinsiale verkeersafdelings nou saam die verkeersbeheerdienste aanbied.
Bence het die verkeersafdeling van harte bedank dat hulle die organiseerders van die padfietsren tegemoet gekom het.
Die Timbercity Padfietsren, wat ’n kwalifiserende ren vir die Cape Town Cycle Race is, word oor afstande van 104 km (kwalifiserende afstand), 57 km en 30 km beslis. Die 104 km-roete volg die Kango
Grotte- en Swartbergpaspad tot in die Matjiesrivier-omgewing en terug.
Altesame sowat 600 deelnemers, onder wie van Suid-Afrika se voorste padfietsryers en -spanne, het verlede jaar aan die Timbercity Padfietsren deelgeneem. Volgens Bence word vanjaar heelwat meer deelnemers verwag.
Anriette Schoeman, veelmalige SA padfietskampioen wat die plaaslike padfietsren agt keer gewen het asook die Cape Cycle Tour vyf keer, is onder die 15 SA kampioene wat vanjaar kom deelneem.
Onder ander bekendes wat aangedui het dat hulle vanjaar gaan kom deelneem, is Alan Winde, Wes-Kaapse premier, Ivan Meyer, die Wes-Kaapse minister van landbou, en Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, asook David Bellaires, direkteur van die Cape Town Cycle Tour Trust.
Senior beamptes van Timbercity/The Building Company Group, borg van die Timbercity Padfietsren, word ook by die byeenkoms verwag.