Moordverhoor uitgestel oor Maggie, Natashia se geldsake

Magdaleen (Maggie) Titus Maandag in gesprek met haar regsverteenwoordiger, adv Mustaque Holland. In die agtergrond is Natashia Stuurman. Foto: Garnett Wicomb

Die verhoor van die vier verdagtes in die Preston Titus-moordsaak in die rondgaande Hooggeregshof op Oudtshoorn, moes Maandag tot groot ontsteltenis van die regter en die publiek weer uitgestel word omdat Magdaleen Titus, ’n raadslid van Oudtshoorn en die vrou van die vermoorde soldaat, nie oor die nodige fondse beskik om haar advokaat te betaal nie.

Deur Garnett Wicomb
SY is diep teleurgesteld oor die jongste vertraging van die Preston Titus-hofsaak wat die staat derduisende rand uit die sak jaag, het regter Nolwazi Boqwana Maandag in die Rondgaande Hof op Oudtshoorn gesê, Sy moes die saak tot 28 Augustus uitstel omdat twee van die beskuldigdes, Magdaleen (Maggie) Titus en Nastashia Stuurman nie hul regsverteenwoordigers betaal het nie.

“Dié vertraging is onaanvaarbaar,” het Bogwana gesê. “Daar moet onthou word dat een van die verdagtes, Justice Mooi, in aanhouding is en daar is ook sprake dat nog ’n verdagte, Masithembe (MJ) January, se lewe in gevaar is. Dit is beslis iets wat die Polisie sal moet ondersoek,” het sy by­gevoeg.

Die regter het daarop gewys dat Titus ’n “groot bedrag geld” in die hande sal moet kry, maar dat dit in belang van geregtigheid is om haar genoeg tyd te gee om dit te bekom.

“Sy en Stuurman sal die geld moet kry of dit mag gebeur dat hulle sonder regsverteenwoordiging sal voorkom. En sonder die nodige regskennis kan dit net tot hul nadeel strek.”

Volgens die regter sal die hof nie die saak weer kan uitstel nie.

Adv Mustaque Holland, Titus se regsverteen­woordiger, het die hof die oggend meegedeel Titus het nie soos belowe verlede Vrydag haar finansiële verpligtinge nagekom nie. Hy het gesê hy sal op aanbeveling van sy opdraggewende proku­reurs nie voortgaan met die saak tensy hy teen middel Junie ten volle vir die saak betaal is nie.

Volgens hom sou Titus ná die verdaging van die saak op 15 Mei van haar bates verkoop het, maar het dit nie gerealiseer nie. Regshulp aan haar is geweier omdat haar inkomste te hoog is.

Titus het aangedui sy behoort teen middel Junie haar regskoste te kan betaal.

Stuurman se regsverteenwoordiger, Chris Morgan, het die hof hierna meegedeel dat hy in ’n soortgelyke posisie is omdat Stuurman agter is met haar betaling en wag op geld wat nog ná die dood van haar broer aan haar uitbetaal moet word.

Die staatsaanklaer, adv Christhénus van der Vij­ver, het hewig kapsie gemaak teen die uitstel van die verhoor. Volgens hom gaan Titus en Stuurman se lewens voort terwyl Justice Mooi in aanhouding is en geregtig is op die spoedige afhandeling van die saak. Volgens hom word belastingbetalers se geld vermors met die regter en haar span wat vanaf Kaapstad na Oudtshoorn moet reis en onverrigter sake moet terugkeer.

“Die gemeenskap wil ook sien dat die saak afgehandel word en geregtigheid geskied. Die be­skul­digdes kan nie elke keer net hof toe kom en om uitstel vra nie.”

Hy het die hof meegedeel dat January tans glo vir sy lewe vrees ná beweerde dreigemente en eintlik aan die vlug is, en dat hy van voorneme is om die kwessie te laat ondersoek. “Hoe langer die saak sloer, hoe ernstiger word die beweerde dreigemente,” het Van der Vijver gesê.

Adv Stoffel Prinsloo, regsverteenwoordiger van Mooi, het die hof meegedeel dat Mooi met reg ook ongelukkig is met die vertraging van die saak.

Borgtog van R30000 vir Titus, R15000 vir Stuur­man en R10000 vir January asook hul borg­voorwaardes is verleng en die saak vir voortsetting van 25 Augustus tot 20 September uitgestel.