Van die Mej Struisie-finaliste in een van die 13 videos wat in die Oudtshoorn-omgewing geskiet is waarin vanjaar se Mnr en Mej Struisie-kompetisie aanlyn aangebied is. Dié aandrokke is van die ontwerper Christiaan Ras. Die videos kan gekyk word op die skool se Facebook-bladsy: Oudtshoorn Hoërskool. Foto verskaf
VOLSTRUISVEERKRONE, die skoonheid van die Klein Karoo en hope kreatiwiteit.
Dit is vanjaar van die kenmerke van die Hoërskool Oudtshoorn se besonderse Mnr en Mej Struisie-kompetisie wat verlede Vrydag (4 September) met die kroningsgeleentheid by Buffelsdrift ten einde geloop het.
Maryke Botha, die Hoërskool Oudtshoorn se bemarker, sê die skool wou vanjaar ’n plan beraam om dié jaarlikse kompetisie waaraan matriekleerders kan deelneem, te laat voortgaan en ook blootstelling aan die dorp en toerismebesienswaardighede te gee.
“Ekonomiese druk kon nie die Struisies kniehalter nie en die goedgunstigheid van die gemeenskap het hierdie droom van ons ’n werklikheid gemaak.
“Vanjaar se Mnr en Mej Struisie-projek was meer as net ’n spoggeleentheid vir die skool, maar wil ook ’n simbool van hoop vir die gemeenskap van Oudtshoorn wees.”
Dertien videos met die 22 finaliste is as deel van die kompetisie by verskeie toerismebesienswaardighede en bakens in en rondom Oudtshoorn geskiet, soos Arbeidsgenot, Pinehurst, die CP Nel Museum en Safari Volstruisplaas, asook by verskeie plekke wat die skoonheid van die Klein Karoo-landskap toon.
Dié videos is oor die laaste aantal weke op sosiale media gedeel en reeds landwyd deur mense gekyk.
Die skool het ook as deel van die kompetisie verskeie gemeenskapsprojekte geloods by Klipdrift Primêr, die Association for Persons with Disabilities (APD) Dagsorg, Helen Bellinghanhof asook by die Eljada Instituut.
Volgens Botha sal die wenners van Mnr en Mej Struisie 2020 voortgaan om die gemeenskapsprojekte te ondersteun en die beeld van die skool en dorp uit te dra.
• Die wenners van vanjaar se Mnr en Mej Struisie-titels is Aziz Jantjies en Imogen Fourie.
Ali Nait-Sadie is aangewys as Mnr Ad Astra en Khanyisa Matshaka as Mej Ad Astra, ’n toekenning vir deelnemers wat nie bang was om uit hul gemaksone te tree en die geleentheid met albei hande aan te gryp nie. Hierdie is ’n nuwe toekenning wat vanjaar ingestel is en is afgelei van die skool se leuse Ad Astra, wat “reik na die sterre” beteken.
Die ander wenners is Nimo van der Merwe (eerste pluimprins) en Ruby-Ann van Heerden (eerste vereprinses) gevolg deur Hanrü Storm (tweede pluimprins) en Chrizanne Human (tweede vereprinses).
Hanrü is ook aangewys as Mnr Fotogenies en Hybre Hefke as Mej Fotogenies.
Druwan Lashawa is aangewys as Mnr Persoonlikheid en Mekayla Greyling as Mej Persoonlikheid. (Deur Christine Schoeman en Liesel le Roux)
