Mev SA semi-finalis bederf kinders

Millicent Biljohn saam met Phillip Seroux (links) en Karel Koelman van Cape Karoo International. Foto: Garnett Wicomb

DIT is haar passie om vroue en kinders te bemagtig en te help waar mense in nood verkeer, sê Millicent Biljohn (31) van Oudtshoorn.

Biljohn is ’n Mev Suid Afrika-semi-finalis vir 2021, en het verlede week haar verjaardag saam met die kinders van die Polisiehoogte Sopkombuis en Nasorgsentrum gevier, én die kinders met koek, aartappelskyfies en ander lekker eetgoed bederf.

Die Oudtshoorn Christelike Jeugforum het haar daarna op ’n besigtigingstoer na die leerlooiery van Cape Karoo International (CKI), die wêreld se grootste produsent van volstruisleer, geneem.

Biljohn,’n boorling van Oudtshoorn, het die afgelope 21 jaar in Pretoria gewoon, maar verlede jaar na haar geboortedorp teruggekeer.

Sy is getroud met Björn en hulle is die ouers van drie dogters.

Sy sê haar lewensfilosofie is om nie op te gee nie, ongeag hoeveel keer jy val, en hoop om as Mev SA-semi-finalis haar gemeenskap trots te maak.

Phillip Seroux van die sopkombuis en nasorgsentrum het Biljohn namens die kinders bedank vir haar uitreiking en sterkte toegewens met alles wat sy doen.

• Die sopkombuis wat deur Seroux en sy vrou, Susan, bedryf word, verskaf elke weeksdag ’n ete aan ten minste 50 kinders en sowat 40 volwassenes. Dit is afhanklik van skenkings en donasies van die gemeenskap. Kontak Seroux by 079 987 9486 vir enige bydraes. (Deur Garnett Wicomb)