Een van twee Amerikaanse veghonde wat Dinsdag vrywillig aan Oudtshoorn Dogs in Need (ODIN) oorhandig is. Foto: Angelique Erasmus
Deur Angelique Erasmus
MEER as 20 Amerikaanse veghonde is die afgelope weke vrywillig deur hul eienaars van die militêre basis op Oudtshoorn verwyder. Dit het gevolg op ’n versoek van die nuwe bevelvoerder van die Oudtshoorn Infanterieskool, kol Diamond Madie, aan alle militêre personeel op die basis om hul veghonde te verwyder indien daar nie voldoende veiligheidsheinings is nie.
Madie het die versoek aan personeel gerig nadat Phillipus Draai (63) op 7 Junie in die woongebied van die weermagkamp gesterf het nadat twee veghonde uit ’n omheinde erf losgebreek en hom aangeval het.
Daar is nog net een veghond oor in die weermagkamp.
Die Hoorn was Dinsdag saam met die dierewelsynorganisasie Oudtshoorn Dogs in Need (ODIN) in die weermagkamp om twee volwasse veghonde en een baba-veghond te verwyder. Die volwasse honde is van kant gemaak omdat hulle erg aggressief was, terwyl die babahond deur ’n veearts behandel is. ’n Skaaprekkie is van sy stertjie ver- wyder en die stert afgesit.
Die honde is almal vrywillig deur die eienaar aan ODIN oorhandig. Die babahond gaan nou by die eienaar se familie in die Oos-Kaap bly.
Colleen Smith van ODIN sê die organisasie is deur die SANW genader om hulle by te staan met inligting aan lede oor veghonde en die verwydering van honde indien nodig. Volgens haar het hulle reeds meer as 20 honde verwyder en moes sowat die helfte as gevolg van aggressie teenoor mense van kant gemaak word.
Een van die volwasse honde wat gister verwyder is, het volgens sy eienaar ’n paar dae gelede oor ’n heining gespring en ’n buurman se hondjie doodgebyt. Die ander volwasse veghond wat aan ’n ketting vas was, was Dinsdag uiters aggressief teenoor personeel van ODIN asook die joernalis van Die Hoorn.
Smith sê ODIN het kort na Draai se dood op versoek ’n voorlegging aan lede van die Infanterieskool gedoen.
Sy sê sy het die belangrikheid van die sosialisering van jou hond, die regte manier om jou hond aan te hou asook die beveiliging van erwe tydens die voorlegging bespreek, asook hoe om aanvalle deur veghonde te voorkom.
“Persone wat veghonde wil aanhou, moet seker maak die honde kom vanaf ’n gerespekteerde teler wat bekend is aan die Pit Bull Federation of South Africa en deur hul gesteun word,” sê Smith.
Sy sê inteling, ’n tekort aan die sosialisering van honde wanneer hulle klein is, ongesteriliseerde hondjies van dieselfde werpsel,
’n gebrek aan kennis van of ondervinding met die ras asook aggressiwiteit wat ontwikkel as honde aan ’n ketting vasgemaak word, kan alles daartoe lei dat veghonde mense en diere aanval.
Smith sê mense moet ook in ag neem dat veghonde ’n hoë verdraagsaamheid van mense het as hulle van kleins af gesosialiseer word en korrek hanteer word, maar dat hulle nie sommer verdraagsaam is teenoor ander diere nie.
“Dit is te wyte aan inteling as die menslike toleransiefaktor nie by veghonde voorkom nie,” sê sy.