Biddag vir reën op Oudtshoorn

’N BIDDAG vir reën word volgende Donderdag (16 Augustus) tussen 13:00 en 14:00 in die Burgersentrum op Oudtshoorn gehou.

Almal is welkom om die geleentheid by te woon.

Die dag word met groot erns benader, sê een van die organiseerders en ’n boer van die Oudtshoorn-distrik, Joey Potgieter.

“Die druk op die hele gemeenskap is enorm as gevolg van die droogte en daar is ’n groot behoefte vir ’n dag van verootmoediging en ’n uitroep na God vir hulp en bystand.

“Diere op plase kry swaar en vrek in die veld, plaaswerkers verloor hulle werk, mense in bestuurs­poste op plase se werk is ook nie meer veilig nie.”

Potgieter sê daar is reeds besighede op die dorp wat as gevolg van die droogte moes sluit, terwyl daar na verneem word ook besighede is wat ander opsies ondersoek in ander gebiede – selfs in die buiteland.

Oudtshoorn is gister tot droogterampgebied verklaar, terwyl die drinkwaterdamme van die dorp besig is om kritieke vlakke te bereik.