Deur Garnett Wicomb
Die bestuurder van die BMW waarin ‘n 18-jarige matriekleerder van Oudtshoorn, Marilize Nortier, op 22 September 2019 gesterf het, Sydney Berry (23), het vandag vlugtig in die hof verskyn. Die saak is vir afskrifte van die dossier tot volgende maand uitgestel.
Berry se regsverteenwoordiger, Bulelani Bans van Dercksen Prokureurs Ingelyf op Knysna, het voordat die hofverrigtinge begin het die media gevra om nie foto’s van sy kliënt te publiseer nie.
Hy het daarna die hof meegedeel dat hy ‘n ernstige probleem het ten opsigte van die veiligheid van Berry wanneer hy vir die saak na die hof moet kom en dat sy vader hom daaroor genader het. Volgens Berry se pa het hy dreiemente ontvang dat sy seun “uitgesorteer” gaan word.
Landdros René Gerber het dit aan Bans gestel dat hy nie die aangeleentheid gaan hanteer nie en Bans ‘n ander platform daarvoor moet gebruik.
Berry se hofverskyning volg op ‘n beslissing van die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) dat hy vir strafbare manslag, alternatiewelik roekelose of nalatige bestuur, en versuim om by ‘n ongelukstoneel hulp te verleen na ‘n botsing, vervolg moet word. Die motor waarin Nortier ‘n passasier was, het die aand tussen Oudtshoorn en die Kango Grotte die pad verlaat en in ‘n watervoor beland.
Berry het toe glo die toneel verlaat en later weer teruggekeer.
Nortier was steeds in die voertuig vasgegordel toe dit ure later uit die water gesleep is. ‘n Nadoodse ondersoek het bevind dat sy verdrink het.
Die saak is vir afskrifte van die dossier en instruksies van die beskuldigde aan sy regsverteenwoordiger tot 14 Desember 2020 uitgestel. Ao Daromé Burger is die ondersoekbeampte in die saak.