Man wat glo polisiebeampte byt in hof vir borgaansoek

DIE borgaansoek van ‘n man van Dysselsdorp wat aangekla word van roof en dat hy hom “bemoei het” met ’n lid van die SAPD is verlede week in die
Oudtshoorn Landdroshof vir verdere getuienis tot vandag, Donderdag 23 Januarie, uitgestel.

Johnson de Wee (33) van Heinz View, Dysselsdorp het glo op 3 Januarie vanjaar ’n vriend van sy tekkies beroof en daarna ’n polisiebeampte van sy vuurwapen ontneem deur hom aan sy arm te byt.

De Wee het in die hof aangedui dat hy onskuldig sal pleit omdat dit volgens hom eintlik die polisie was wat hom aangerand het.

Hy het die hof om borg gevra omdat hy vir ’n inkomste wil gaan werk om sy vriendin en kind te versorg, asook omdat hy sy pa se vee wil gaan oppas.

De Wee het 13 vorige veroordelings en was tussen 2003 en 2006 ’n lid van die Hard Livings-bende op Dysselsdorp.

Hy het die hof meegedeel dat hy ’n beampte van korrektiewe dienste as getuie wil roep. (Deur Garnett Wicomb)