DIE vinnige optrede van sekuriteitspersoneel by die Queen’s Mall op Oudtshoorn en die skerp oog van die sekuriteitskameras wat twee maande gelede daar geïnstalleer is, het Vrydag tot die inhegtenisname gelei van ’n man wat ’n Ierse toeris by ’n kitsbank beroof het.
Die man, Thando Jaxa (28), is deur die polisie in hegtenis geneem op ’n klagte van poging tot roof. Hy het na bewering Woensdag ’n Ierse toeris by ’n kitsbank by die Queen’s Mall beroof. Sekuriteitswagte van Blacklist Sekuriteit het die BMW waarmee die mans Woensdag gevlug het, se registrasienommer neergeskryf.
Die motor is Vrydag deur dieselfde sekuriteitsmaatskappy by Oudtshoorn Spar opgemerk waarna die polisie in kennis gestel is. Jaxa is kort daarna deur die polisie op die parkeerterrein van die Queen’s Mall in hegtenis geneem
Volgens Harry Coetzee, eienaar van Blacklist Sekuriteit, maak die sekuriteitskameras ’n groot verskil en dit moontlik om talle misdade te identifiseer. Nog ’n voertuig kon byvoorbeeld verlede week geïdentifiseer word met van die insittendes wat betrokke was by die diefstal van geld van ’n ander toeris. Dié toeris, wat klaarblyklik sy bankkaart aan ’n man gegee het nadat hy ingelig is “hy moet betaal vir parkering”, wou egter nie voortgaan met ’n klag nie omdat hy nie die hofsaak sal kan bywoon nie. (Berig deur Liesel le Roux)