Man se lyk in veld gevind ná honde-aanval

DIE Oudtshoorn Polisie het ’n geregtelike nadoodse ondersoek begin nadat die lyk van ’n 60-jarige man Donderdag, 5 November, in ’n oop stuk veld langs die munisipale depot in Dassieweg, Oudtshoorn, gevind is.

Volgens kapt Louis Visser, polisie-woordvoerder, is George Pietersen se liggaam met verskeie oop wonde deur twee mans ontdek toe hulle die oggend omstreeks 08:00 op pad werk toe was.

Hulle het toe ’n sekuriteitsbeampte by die depot gevra om die Polisie te skakel.

“Die oorledene is dood weens trauma aan die nek wat veroorsaak is deur ’n hond of honde, en die Polisie sal voortgaan met ’n geregtelike na-doodse ondersoek,” het Visser gesê.

Toe die nuus verlede week op so-siale media verskyn het, sonder Pietersen se naam omdat dit onseker was of sy naasbestaandes al ingelig is, het familielede en kennisse reeds te kenne gegee dat dit Pietersen se lyk was wat gevind is.

Mersha Mynkat Adams het op Die Hoorn se Facebook-blad gesê: “R.I.P uncle Georgie. Jy sal beslis gemis word.”

Aletta Mawona het gesê: “Hy was ’n liewe mens, niemand gepla, (en) altyd vriendelik. Gaan hom mis. Hy (het) altyd hier verby my huis geloop. Sterkte aan familie.”

Nadia Campher het gesê: “Daardie man was ’n mens wat nie mense gepla het nie, maar ek weet God sal op aarde als regmaak my oom, ons God slaap nie, hy leef.”

Die Hoorn het probeer om Pieter-sen se familie te kontak, maar het teen druktyd nog nie daarin geslaag nie.

’n Werkgewer van Pietersen, wat gevra het om anoniem te bly, het Dinsdag eers van Pietersen se afsterwe verneem nadat hy nie soos oudergewoonte vir werk opgedaag het nie.

Sy het by Die Hoorn kom navraag doen of dit rerig Pietersen was wat op die oop veld gevind is nadat sy te hore gekom het van die insident, en tranerig vertel dat hy reeds jare-lank weekliks vir haar in die tuin gewerk het.

“Dit is so tragies, hy was rerig ’n baie goeie mens,” het sy gesê. (Deur Stefan Skapie Goosen)