Man mag appeleer teen agt jaar-vonnis

Bedrogsaak van bykans R5 miljoen

Deur Garnett Wicomb
’N SAKEMAN van Oudtshoorn wat tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis is vir bedrog van digby R5 miljoen, het verlede Donderdag verlof gekry om teen sy vonnis te appelleer.

Ockert Fourie (57) is agt jaar gevangenisstraf in die Oudtshoorn Streekhof opgelê nadat hy op 14 November verlede jaar skuldig bevind is op drie klagtes van bedrog wat verband hou met transaksies op die internasionale vrugtemark.

Fourie het sedert 1997 transaksies op die internasionale vrugtemark bedryf deur vrugte by boere aan te koop en dan aan die oorsese mark te verkoop.

Fourie het as enigste direkteur van Sunprix Grape and Citrus Distribution, wat vrugte na die buiteland uitgevoer het, Absa Bank uit altesaam R4 866 819,98 bedrieg. Hy het skuld erken.

Die hof het bevind Fourie het vantevore transaksies by die bank gedoen en sodoende die vertroue van die bank gewen. Die betrokke drie transaksies op 6 Julie 2005 (R2 366 739,96), 12 Julie 2005 (R2 340 431,93) en 29 Julie 2005 (R159 648,00), is deur die bank goedgekeur sonder die nodige bewyse.

Die bedrae is in Fourie se rekening betaal met die verstandhouding dat hy op die punt was om altesaam 597 535 Euro van oorsese maatskappye te ontvang vir vrugte wat hy glo uitgevoer het.

Hy het die geld gebruik, maar die bank het nooit die beloofde betalings ontvang nie.
Fourie het daarna sy sakerekening na ’n ander bank verskuif.

Hy het erken dat hy fouteer het deur aan Absa Bank voor te gee dat hy by drie geleenthede oor genoeg fondse beskik om Euros oor te skakel in rand.

Hy het erken dat Absa skade kon ly en dat hy bewus was dat ’n probleem kon ontstaan met fondse aan hom verskuldig vanuit die buiteland.

Fourie is kort na sy vonnisoplegging verlof om daarteen te appelleer deur streeklanddros Mark van Wyngaardt toegestaan. Borgtog van R500 is toegestaan hangende streng voorwaardes onderhewig aan die uitslag van die aansoek.

Fourie voer in sy aansoek aan dat die hof die erns van die misdryf en die belang van die ge­meenskap oorbeklemtoon het en dat gevangenisstraf van agt jaar onder die omstandighede skok­kend onvanpas is, en dat ’n ander hof moontlik tot ’n ander bevinding kan kom. Hy het ook geen vorige veroordelings nie.
Fourie moet elke Woensdag en Saterdag tussen 16:00 en 20:00 by die Oudtshoorn Polisiekantoor aanmeld. Indien sy aansoek onsuksesvol is, moet hy binne twee hofdae by die hof aanmeld.
Adv Xolile Jonas het vir die staat en Wenzel Botha van die regshulpraad vir Fourie verskyn.