Man kry agt jaar gevangenisstraf vir brandewyn en luidspreker…

’N MAN van Oudtshoorn wat aan roof met verswarende omstandighede en diefstal skuldig bevind is, is die week in die Oudtshoorn Streekhof tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis.

Julius Hufke (25) het erken dat hy op 16 April 2021 ’n bottel brandewyn in Crazy Bottle Store in Randstraat van die rakke geneem en sonder om daarvoor te betaal uitgestap het.

Hy het weggehardloop nadat hy ’n sekuriteitsbeampte by die uitgang met ’n panga gedreig het.

Hy het ook skuldig gepleit op ’n klagte dat hy op 23 Julie 2021 ’n luid­spreker by Watson Supermark in Dassieweg gesteel het. Volgens hom was hy in beide gevalle onder die invloed van Tik en Mandrax.

Die staatsaanklaer, Hyron Goul­ding, het gesê dit is duidelik dat Huf­ke die misdade beplan het. In die eer­- ste geval het hy ’n panga in ’n rugsak gehad en in die tweede geval ’n mes. Die mes het geval toe hy dit uit sy sak haal en hy kon dit nie gebruik nie.

Hufke het aanvanklik onskuldig gepleit totdat ’n video-opname aan hom getoon is waar hy gesien kan word.

Hufke is nie ’n eerste oortreder nie. Hy is deur streeklanddros Ntsoki Moni tot ses jaar vir roof met verswarende omstandighede en twee jaar vir diefstal gevonnis. (Deur Garnett Wicomb)