’N MUSIKALE reis deur die wêrelde van opera, tradisionele en kontemporêre kunsmusiek, asook melodieë uit musiekblyspele wag in September op musiekliefhebbers in Oudtshoorn – as deel van Klein Karoo Klassique wat hierdie jaar oor ’n paar maande ’n reeks klassieke musiekkonserte in Oudtshoorn sal aanbied.
Die sopraan Lynelle Kenned keer terug na die Klein Karoo met Song Treasures saam met pianis Stefan Lombard, vir ’n intieme uitvoering wat wissel van gewilde klassieke musiek van Handel en Mozart, tot bekende musiek uit West Side Story, The King and I, Showboat en The Phantom of the Opera.
“Ons sien daarna uit om Lynelle Kenned en Stefan Lombard op Oudtshoorn te verwelkom, vir ’n heerlike musiekreis deur die eeue. Dit is ’n wonderlike geleentheid vir plaaslike musiekgehore om musiek deur van ons land se bestes te beleef,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK.
Kenned is ’n gegradueerde van die Universiteit van Kaapstad Operaskool en ’n multi-bekroonde kunstenaar.
Lombard is een van Kaapstad se mees gesogte en veelsydige musikante, en het as pianis saam met van die voorste orkeste in Suid-Afrika opgetree, beide as solis en orkestrale instrumentalis. Hy het by die Arizona State University, die Universiteit van Kaapstad en die Royal Northern College of Music in Manchester, Engeland studeer.
Song Treasures word op Saterdag 18 September om 15:00 en Sondag 19 September om 11:00 in die Klein Karoo Ostrich Emporium uitgevoer. Slegs 50 kaartjies per uitvoering is beskikbaar as gevolg van die huidige Covid-19-maatreëls. Kaartjies kos R150 en is beskikbaar by Quicket (https://qkt.io/SongTreasures). Covid-19-protokol sal gevolg word en lede van die gehoor moet ten alle tye maskers dra.
• Oor dieselfde naweek word Puccini se bekende opera La Bohème in die Burgersentrum op Oudtshoorn aangebied. Dié optrede maak deel uit van Kaapstad Opera se nasionale toer en word op Saterdag 18 September om 19:00 en Sondag 19 September om 15:00 aangebied. Die 50 kaartjies per uitvoering is ongelukkig reeds uitverkoop, maar kontak Daleen Witbooi by die KKNK-kantoor (044 203 8600) om jou naam op ’n waglys te plaas indien inperkingsregulasies dalk verslap word en meer mense toegelaat kan word in die venue.
Lynelle Kenned ook op Oudtshoorn!
Die sopraan Lynelle Kenned wat binnekort op Oudtshoorn te sien is. Foto verskaf