Lyk van pasgebore baba by rioolplaas

Deur Angelique Erasmus
DIE Ladismith Polisie is tans besig met ’n geregtelike nadoodse ondersoek nadat die lykie van ’n pasgebore baba gevind is.

Volgens ao Jan Cederas, woordvoerder van die Ladismith Polisie, is die baba se lykie deur ’n munisipale werker ontdek waar dit teen die rooster by die inlaat van Kannaland se rioolplaas vasge­steek het.

Cederas sê die nadoodse ondersoek word gedoen om die oorsaak van die baba se dood te bepaal.

Die baba se lykie is op Maandag, 29 Julie ontdek.

Dawid Bothman, voorsitter van die Ladismith Gemeenskapforum, het die gemeenskap versoek om die polisie by te staan en te help met die ondersoek.

“Inligting sal as vertroulik hanteer word,” het hy gesê.

Enigiemand met inligting wat die polisie mooontlik kan help in hul ondersoek, word versoek om sers Damion Manuel by die kontaknommers 028 551 8146 of 028 551 8140 of 082 379 4111 te skakel.