Liezl Meyer (18) is goed op pad na herstel

Liezl Meyer vorder tans goed in die Aurora Rehabilitasiehospitaal in Port Elizabeth. Foto verskaf

Liezl Meyer vorder tans goed in die Aurora Rehabilitasiehospitaal in Port Elizabeth. Foto verskaf

Deur Ilze-Mari Gründling
DIE 18-jarige Liezl Meyer van Oudts­hoorn wat op 28 Februarie op die Mosselbaaipad in ’n motorongeluk betrokke was, vorder goed op die pad na herstel, sê haar ouers, Doelie (Johan) en Hannelie Meyer.

“Daardie dag het ons as gesin se lewens totaal verander. Liezl is deur vyf operasies en ’n lang tyd in die hospitaal, maar ons dank die Here dat Hy haar in Sy hande geneem en gered het,” sê Doelie.

Rukwinde was vermoedelik die oorsaak dat die voertuig gerol het waarin Liezl en haar Labrador-hondjie van drie maande was, waarna dit langs die pad beland het.

Volgens haar pa het Liezl drie breinoperasies ondergaan, asook ’n nekoperasie en een vir haar gebreekte arm. Sy is tans in die Aurora Rehabilitasiehospitaal in Port Elizabeth en vorder baie goed.

“Dankie aan almal se gebede, boodskappe, oproepe, besoeke, gel­de­like bydraes en kos. Ons as gesin weet nie hoe om almal te bedank nie, maar weet dat ons dit uit ons harte waardeer. Liezl is van die begin af so ’n ongelooflike positiewe vegtertjie.”

Liezl het self ook ’n boodskap ge­stuur vir almal wat haar die afgelope maande ondersteun het: Ek wil baie dankie sê aan almal wat my ondersteun in die moeilike tyd. Ek waardeer al die geskenkies, gebede en boodskappies. Ek hoop om julle gou weer te sien en persoonlik te bedank. Baie liefde, Liezl