DIE Wes-Kaap is loshande die provinsie met die bes bestuurde munisipaliteite in Suid-Afrika – volgens twee nuwe onafhanklike verslae oor die gehalte van die 213 munisipaliteite in Suid-Afrika.
Volgens Good Governance Africa (GGA) se verslag is 12 van die 20 bes bestuurde munisipaliteite in die land in die Wes-Kaap geleë en onder DA-beheer, met Mosselbaai wat aangewys is as Suid-Afrika se beste munisipaliteit.
Prins Albert Munisipaliteit skitter ook met ’n 10de plek in die land.
Die laagste posisie wat ’n Wes-Kaapse munisipaliteit beklee is nommer 59 uit die lys van 213 munisipaliteite.
GGA het die munisipaliteite beoordeel op grond van die gehalte van administrasie, ekonomiese ontwikkeling en dienslewering.
’n Tweede verslag van Ratings Afrika het munisipaliteite landwyd ’n punt uit 100 gegee op grond van die bestuur van hulle geld en watter invloed dit op dienslewering het. Finansiële state van die 100 grootste munisipaliteite tot Junie 2018 is ag geneem.
Die Swartland Munisipaliteit (Malmesbury) het die beste gevaar met ’n punt van 86 en terwyl die Wes-Kaap met ’n gemiddeld van 63 die beste provinsie is.
Die verslag waarsku egter dat gevaarligte flikker vir die land se munisipaliteite met baie van die grootste munisipaliteite wat in ernstige finansiële moeilikheid is.
Slegs 22 munisipaliteite het bedryfsurplusse getoon.