Die munisipale bakkie wat gistermiddag met ’n paal gebots het. (Foto verskaf.)
Deur Angelique Erasmus
’N MUNISIPALE werknemer van Oudtshoorn was gistermiddag net ná 14:00 in ’n ongeluk in Langenhovenweg betrokke.
Die bestuurder van die wit Toyota-bakkie van die munisipaliteit se departement waterwerke het teen ’n paal in die middelman gebots.
Nadat die bakkie die paal getref het, het ’n sterk stroom water in die lug opgespuit, vermoedelik afkomstig van ’n waterpyp wat weens die botsing gebars het.
Volgens ’n ooggetuie Jacoline Saayman, wat agter die bakkie gery het, het die bakkie stadig gery. “Die ongeluk het in ’n oogwink gebeur,” sê sy.
Saayman het daarna stilgehou en na die bakkie gegaan om te verneem of die bestuurder hulp benodig.
“Dit het gelyk of hy pas bygekom het, en al wat hy heeltyd gesê het was dat hy nie weet wat gebeur het nie,” vertel sy.
Die bestuurder, Adriaan Herold (55) het ook op die toneel vir haar gesê dat hy ’n pyn op sy bors het.
Herold is per ambulans na die Medi-clinic gebring vir verdere behandeling.
Die Hoorn het gistermiddag omstreeks 17:30 met Herold se vrou, Berny Herold, gepraat.
Volgens haar gaan dit beter met haar man, en is daar X-strale van sy knie geneem.
In daardie stadium het hulle vir die dokter gewag om aan hulle die uitslae van die X-strale te gee.
Sy het ook bevestig dat haar man gesê het dat hy sy bewussyn verloor het wat tot die ongeluk gelei het.