Inisiatief en innovasie vanuit Oudtshoorn bekroon

Hugo Theart met die Fleur du Cap-toekenning. Foto verskaf
KUNSTE ONBEPERK, die aanbieder van die KKNK en Klein Karoo Klassique op Oudtshoorn, is Sondag met die Fleur du Cap-teaterprys vir innovasie bekroon. Die Fleur du Cap-pryse word as van die gesogste in die Suid-Afrikaanse kunste beskou.
Die Teksmark is ’n inisiatief waardeur nuwe Suid-Afrikaanse verhoogtekste tot verhoogstukke ontwikkel word.
“Die Teksmark word geprys vir sy doel om nuwe Suid-Afrikaanse verhoogtekste te ontwikkel en ’n geleentheid vir dramaturge te skep om hul idees en tekste aan belangstellendes in die teaterbedryf voor te stel. Die Teksmark het toegesien dat oorspronklike inhoud die lig sien, wat diverse Suid-Afrikaanse stories verken en nuwe teater- stemme na vore bring,” sê Melanie Burke, voorsitter van die Fleur du Cap-teaterpryse se beoordelingspaneel.
Hugo Theart, waarnemende uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, sê die toekenning is ’n groot eer. “Die Teksmark is vir ons ’n baie belangrike projek. Hoewel daar in die eerste twee jaar uitstaande tekste geïdentifiseer en ontwikkel is, is daar nog soveel meer wat ons moet vermag,” sê Theart.
Hy sê Kunste Onbeperk wil met dié projek sorg vir sterk mentorskapprogramme vir jong, talentvolle skrywers en ook gevestigde skrywers ondersteun.
“Hoewel die Teksmark ’n inisiatief van Kunste Onbeperk is, kan dit slegs ’n bydrae lewer as die hele bedryf eienaarskap neem en dit as ’n gesamentlike geleentheid benut.
“Hoe meer instansies hierby betrokke raak, hoe meer voordelig is dit vir die skrywers en uiteindelik die bedryf. Vanjaar se
Teksmark word op 3 en 4 September in die Baxter Teatersentrum aangebied.”
• Vyf tekste van die Teksmark is vanjaar by die KKNK te sien: Amee Lekas se Die dans van die Watermeid, Marina Albertyn se Melk & vleis, Ingrid Winterbach se Ons is almal freaks hier, Bauke Snyman se Swerfgoed en Du Toit Albertze se Die Meermin-kompleks.