Dié foto’s wat skade toon aan die skade aan die Eskom-aansluitingspunt is gister deur die Oudtshoorn Munisipaliteit verskaf.


Deur Angelique Erasmus
DIE Eskom-kragaansluiting by die Varkieskloof-boorgat by Dysselsdorp het die week weer deurgeloop onder die verwoestingswerk van vandale.
Dit is die tweede keer vanjaar dat vandale daar toeslaan.
In Mei vanjaar is Eskom se mini-substasie wat vir dié belangrike munisipale boorgat krag gee, geplunder.
Die nuut geïnstalleerde Eskom-aansluiting voorsien krag aan die boorgatpomp.
Luidens ’n persverklaring van die Oudtshoorn Munisipaliteit is Eskom se transformator wat krag gee aan die boorgat erg gevandaliseer en die toevoerkabel afgekap.
Weens die skade wat aan die Eskom-aansluiting aangerig is, kan geen water tans na die waterwerke by Dysselsdorp gevoer word nie en mag watertekorte ontstaan.
Herstelwerk sal so gou moontlik deur Eskom gedoen word.
Aurelia Oliphant, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, sê al die baie pogings om die pompstasie te beveilig was tot dusver onsuksesvol.
Staaldeure is aangebring met ekstra sluitmeganismes en tot pepersproei maak deel uit van die beveiliging.
“Vandale breek net bloot deur die baksteenmuur en kap dan al die elektriese toerusting aan die binnekant stukkend. ’n Wag is ook tans nie ’n opsie nie, omdat so ’n persoon se lewe daar in gevaar sal wees.”