Piet en Maria Danster saam met agter van links die Wes-Kaapse Minister van menslike nedersettings, Tertius Simmers, Oudtshoorn se onderburgemeester, Noluthando Mwati, en die burgemeester, Colan Sylvester. Foto: Garnett Wicomb
Deur Garnett Wicomb
“DIS ’n heuglike geleentheid en baie bevredigend om daarvan deel te wees, maar moet nou nie julle huise vir spazawinkels gaan verhuur nie.”.
So het die Wes-Kaapse Minister van Menslike Nedersettings, Tertius Simmers, Dinsdagoggend in die Toekomsrus Gemeenskapsaal gesê toe hy en die burgemeester van Oudtshoorn, Colan Sylvester, 50 van ’n totaal van 357 titelaktes aan nuwe huiseienaars oorhandig het.
Die huise is Fase 3 in die Rose Valley-behuisingsprojek van die Oudtshoorn Munisipaliteit.
Daar was groot vreugde onder die ontvangers van wie baie al vir etlike jare gewag het om ’n eie huis te besit.
Volgens Simmers is die oorhandiging van die titelaktes ’n bewys van die Wes-Kaapse regering se verbintenis om so ver moontlik die lewe van inwoners te verbeter en hul waardigheid te herstel.
Volgens Simmers het hy sedert Mei vanjaar ook al 100 titelaktes aan nuwe huiseienaars in Delft en Blue Downs oorhandig.
Hy het ’n beroep op die nuwe huiseienaars gedoen om nie hul huise te verhuur of te verkoop nie en beklemtoon dat geen huise aan jong mense toegeken is nie.
“Om jou eie huis te besit is iets om op trots te wees en moet jou kosbaarste besitting wees,” het Simmers gesê.
Volgens hom is die titelakte ’n waardevolle dokument wat soos goud bewaar moet word en wat ook ander toekomsgeleenthede bied soos dat die huis vergroot kan word.
Hy het die Oudtshoorn Munisipaliteit geluk gewens met die suksesse wat reeds behaal is met sy behuisingsprojekte en veral die waarnemende direkteur van menslike nedersettings, Shehaan Simms, en haar span lof toegeswaai.
Volgens Sylvester was die Rose Valley Fase 3 behuisingsprojek ’n baie suksesvolle projek wat lank voor die beplande datum voltooi is.
Hy het ook bekend gemaak dat die volgende ontwikkelingsprojek in Rose Valley binnekort sal plaasvind.
“Ons sien nou uit na Fase 4 wat tussen November vanjaar en Februarie 2020 ’n aanvang sal neem,” het Sylvester gesê.