DIE Kannaland Munisipaliteit het ’n beroep op die gemeenskap van die omgewing gedoen om nie gesteelde goedere aan te koop nie, maar eerder die plaaslike polisie in te lig indien die gemeenskap van so iets bewus sou word nadat ’n brandweervoertuig se battery onlangs gesteel is.
Die voorval het waarskynlik Donderdag (2 Junie) by die brandweerstasie in die dorp plaasgevind.
Verskeie items, wat groot hoeveelhede brandstof asook motorbatterye insluit, is gesteel.
In ’n gesprek met ’n brandweerman van die Distriksmunisipaliteit op die dorp, wat gevra het om nie geïdentifiseer te word nie, het dit duidelik geword dat só ’n diefstal nie net as ’n ernstige misdryf beskou word nie, maar kan dit tot die verlies aan lewens lei indien die brandweer nie op noodoproepe kan reageer as gevolg van diefstal of beskadiging van eiendom nie.
Inwoners het uiteenlopend oor hierdie voorval reageer. Sommige inwoners het gesê dat diensle-wering in Kannaland in elk geval swak is en dit nalatigheid is wat aan die Munisipaliteit toegeskryf kan word, terwyl ander dit as ’n sinnelose daad wat selfs die diewe se families kan raak, beskou het.
Teen druktyd kon geen kommentaar van die Munisipaliteit verkry word nie. (Deur Deon Meyer)
Kommer oor diefstal by Kannaland-brandweerstasie
’n Brandweerwa van Kannaland moes ’n nuwe battery kry nadat sy battery gesteel is. Foto: Deon Meyer