Kommer ná naginbrake

Clicks se deure was Vrydag heeldag gesluit. Inlas: Die smal gleuf by Swartberg Car Wash waardeur inbrekers ingewurm het.

Clicks se deure was Vrydag heeldag gesluit. Inlas: Die smal gleuf by Swartberg Car Wash waardeur inbrekers ingewurm het.

• Dakdiewe steel R80 000 uit kluis by Clicks

Deur Liesel le Roux
INBRAKE snags by besighede op Oudtshoorn het inwoners van die dorp bekommerd.
Clicks, Oudtshoorn-Wes Handelshuis en Swartberg Car Wash het sedert Vrydag deurgeloop.
Inbrekers het verlede Vrydag in die vroeë og-gendure op ’n klaarblyklik meer vindingryke wyse as met die gemiddelde inbraak R80000 uit ’n kluis in Clicks in Hoogstraat gesteel.
Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die inbrekers deur die dak aan die agterkant toegang tot die winkel verkry en is alarmkabels geknip om dit buite werking te stel.

Hierna is ’n brandkluis oopgesny en die geld uit die brandkluis verwyder.
Volgens Michaels wil dit voorkom of niks anders uit die winkel gesteel is nie.
Polisiebeamptes was Vrydag byna die hele dag met ’n ondersoek binne-in die winkel besig. Clicks het

eers weer Saterdag sy deure vir die publiek oopgemaak.
Clicks, se woordvoerder, Susann Caminada, het aan Die Hoorn gesê Clicks kan bevestig dat personeel die inbraak ontdek het toe hulle Vrydag-oggend by die werk aangekom het.
Sy het verdere navrae na die Polisie verwys.

Twee dae ná die Clicks-inbraak het inbrekers weer deur ’n besigheid se dak probeer inkom – die keer Sondag­oggend omstreeks 03:20 by Oudts-hoorn Wes-Handelshuis in Voortrekkerweg.
Volgens Jaco Vorster, mede-eie­naar van die winkel, is daar egter sensors in die dak wat deur die inbrekers geaktiveer is, en het die alarm afgegaan.

Die sekuriteitsmaatskappy Suider­kruis se alarmreaksie-eenheid en die Polisie was gou op die toneel, maar die inbrekers het toe reeds gevlug, vertel hy.

Volgens Vorster is die sensors in die dak aangebring nadat daar voorheen deur die dak by die winkel ingebreek is. Die winkel het egter toe nog aan sy ouers, Leon en Elize Vorster, en hul seun Willie behoort.

In nog ’n inbraak het Deon Bosman, eienaar van Swartberg Carwash op Checkersplein, vroeg Maan­­dagoggend ontdek dat inbrekers ’n gat in die een die houtmuur van die kantoor op die terrein gebreek en ’n groot klomp gereedskap gesteel het.

Die gleuf waardeur die inbreker of inbrekers na binne geklim het, is so smal dat waarskynlik slegs kinders daardeur sou kon kom.

’n Staalkas se deur binne is oopgebuig op soek na iets om te steel.
Bosman sê hy het ’n kwotasie vir R12 000 gekry om die gereedskap te vervang. “Van die stukke het aan my oorlede pa behoort en die sentimentele waarde daarvan kan ’n mens nie vervang nie.”