Kollig op dienslewering en nuwe inisiatiewe

Die Groter Oudtshoorn se burgemeester, Chad Louw. Foto: Stefan Skapie Goosen

OUDTSHOORN se burgemeester, Chad Louw, het tydens sy eerste 100 dae in dié warm stoel stappe gedoen om in samewerking met personeel en verkose raadslede kwessies aan te spreek wat belangrik is vir inwoners en vir hulle op die lang termyn tot voordeel sal wees.

So lui ’n verklaring wat Dinsdag deur die munisipaliteit uitgereik is.

Luidens die verklaring is daar samewerking vir ’n projek tussen die munisipaliteit en die Departement Korrektiewe Dienste wat werksgeleenthede vir inwoners sal skep, terwyl ook verwys word na toekennings van R1,1 miljoen van die Wes-Kaapse Regering vir die Expanded Public Works Programme (EPWP) asook ’n bedrag van R26 miljoen vir strate en stormwater. Dié toekennings sal ’n bydrae lewer tot die veldtog om Oudtshoorn skoon en veilig te hou.

Ander kwessies waarna in die verklaring verwys word is die volgende:
• ’n Tender is begin Februarie uitgereik vir plaaslike klein kontrakteurs om te help om onwettige storting aan te spreek deur vullis in oop spasies, stormwatervore en in die rivier te verwyder.

• Die tegniese departement is ook hard aan die werk om paaie in Oudtshoorn te herstel en in stand te hou.

• Na gesprekke met die nasionale Departement van Water en Sanitasie is ’n bedrag van sowat R47 miljoen deur die departement goedgekeur vir die voltooiing van die Blossomsprojek.
“Die konstruksie van die volgende fase sal vroeg in Maart begin. Dié projek sal verseker dat ons water van Blossoms aan Oudtshoorn, Dysselsdorp en omliggende landelike gebiede kan bied,” het Louw gesê.

• Bouplanne vir die Bridgton Mall is in Januarie goedgekeur en die belegger beoog om in Maart of April met konstruksie te begin. Heelwat werksgeleenthede sal hierdeur geskep word.

• Volgens Louw wil Oudtshoorn steeds voortgaan om die dorp te bemark as ’n sportmekka en ’n dorp waar groot geleenthede aangebied kan word.

Volgens hom vind die Suid-Afrikaanse jeug- fietsrykampioenskap in Maart hier plaas.

Die Oudtshoorn Munisipaliteit het voorts in Desember ’n ooreenkoms met die Departement Kultuursake en Sport gesluit om sport te bevorder.

Daar is ook begin met beplanning vir ’n volgende jaarlikse sportfees op Oudtshoorn.

“Ons het uitdagings ervaar met die gehalte van ons sportinfrastruktuur, spesifiek die swembaddens, en ’n span bestaande uit topbestuur en raads­lede het met rolspelers vergader om sake wat kommer wek, aan te spreek. Dit sal hopelik die grondslag lê om te begin herbou en ons swembad te herposisioneer om galas en en ander geleenthede aan te bied,” het Louw gesê.

• Louw wys in sy verklaring op die munisipaliteit se verantwoordelikheid om dienste aan inwoners te lewer.

“Ek is verbind daartoe om my pligte en funksies na te kom om konkrete en betekenisvolle stappe te verseker om die kwessies in ons gemeenskappe aan te spreek en nuwe moontlikhede en geleent­hede te verseker.”

Verskeie projekte is ook in die pyplyn vir die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, onder meer die volgende:

• Die aanstelling van ’n “agent” wat die lug­hawe kan bestuur “as ekonomiese ontwikkelingsfasiliteit wat ook werksgeleenthede kan skep”.

• ’n Vraghouerprojek wat addisionele ruimte vir klein besighede sal skep om sake te doen.

• Verskeie ander projekte soos ’n handelsprojek met Alphen aan den Rijn oor plante en met die Wes-Kaapse toerisme-, handel- en beleggingsbevorderingsagentskap (WESGRO) om plaaslike boere te ondersteun.