
Tamzyn Boonzaaier (links), prinsipaal van Crayons Dagsorg, in gesprek met Rensche Bougas, hoof van Kleuterzone
‘N KLEUTERSKOOL van Oudtshoorn is binnekort op kykNET se gewilde kleuterprogram, Kleuterzone, te sien!
Kleuterzone was verlede week in Oudtshoorn om beeldmateriaal by Crayons Dagsorg te verfilm.
Crayons Dagsorg in St Saviourstraat is een van 24 kleuterskole in die land wat gekies is om op die program te verskyn.
Daar is tans 50 kinders tussen die ouderdomme van drie maande tot vyf jaar in die skooltjie.
“Ons én die kinders is baie opgewonde! Die kinders kry ’n kans om op televisie te verskyn!” het Tamzyn Boonzaaier, prinsipaal, gesê.
Die program word uitgesaai op kykNET NOU (kanaal 146), kykNET en Kie (kanaal 145) en kykNET Via (kanaal 147).
Kleuterzone het in 2013 onstaan met die doel om na die lewe deur die oë van ’n kleuter te kyk en is Christelik van aard. Die program besoek kleuterskole van regoor Suid-Afrika en Namibië.
“Ons gee kleuters die kans om iets te sê en om hulself uit te druk. Dit is net pret!” vertel Rensche Bougas, hoof van Kleuterzone.
Die kinders het ’n paar Christelike liedjies gesing en later het hulle vir die kameras gedans.
Boonzaaier vertel dat verskeie besighede borgskappe gegee het om die dag ’n sukses te maak.
“Ek wil graag vir al ons borge wat hierdie dag moontlik gemaak het, baie dankie sê. Ons sê ook baie dankie aan kykNET vir hierdie geleentheid.”
Volgens Boonzaaier sal die program oor ’n maand uitgesaai word. (Berig deur Ilze-Mari Gründling)