Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) vier van 28 Maart tot 4 April sy 30ste bestaansjaar op Oudtshoorn — ’n mylpaal wat volgens die organiseerders nie net terugkyk nie, maar ook die toekoms van Afrikaanse kuns vier.
Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur, sê die feesprogram bring gevestigde kunstenaars en nuwe stemme.
“Dit is ’n viering van waar ons vandaan kom, maar ook van waarheen ons op pad is,” sê hy.
Die Feesmark bly ’n kernpunt van die KKNK. Daar is twee musiekverhoë, kinderteater, stalletjies en leefstylervarings. Ander hoogtepunte in die Feesmark sluit in Blitsteater se kort teaterproduksies, die KKNK-winkel, kroeë, ’n pretpark, en ’n ekspo-area deur Klein Karoo Agri.
’n Spesiale Voluit Openingskonsert (28 Maart) met verskeie verrassings en die ou bekende Karoo Pops (29 Maart) en Kaktus (2 April) is terug.
Gratis vermaak word daagliks in Baron van Reedestraat aangebied, met onder meer gesprekke, boekstories, straatoptredes, regstreekse radio-uitsendings, en ander aktiwiteite.
Die teaterprogram bevat verskeie debuutproduksies, nuwe tekste en vertalings, asook bekroonde werke wat onlangs by ander feeste en teaters te sien was.
Nicola Hanekom keer terug met die plekspesifieke drama Die gebed van ’n halfmens, terwyl Tom Lanoye se Atropa: Die wraak van vrede, onder regie van Marthinus Basson, ook by die fees debuteer.
Saartjie Botha bring ’n nuwe stuk, ge-gebergtes, en hanteer ook die verwerking van Die ander dogter met Sandra Prinsloo. Carla Smith maak haar debuut as dramaturg met CRYBABY.
Ander produksies sluit in Lemoene, lemoene, lemoene, lemoene, lemoene, Deep Heat en ’n nuwe drama uit die Karoo Kaarte-projek.
’n Besonderse hoogtepunt is die aanbieding van Breyten Breytenbach se eerste en laaste toneelstukke by een fees: Boklied en Verwelkingslied. Feesgangers het ’n geleentheid om beide dramas teen ’n besparing van 30% te sien met ’n spesiale Breytenbach-kaartjiepakket.
Op die komediefront is daar ’n sterk aanbod, met onder meer Lizz Meiring, Marion Holm, Frank Opperman en Margit Meyer-Rödenbeck op die planke. Stand-up-kunstenaars soos Alfred Adriaan, Alan Committie en Hannes Brümmer vorm deel van die lagprogram.
Die musiekprogram is ook uitgebreid. Nataniël en Charl du Plessis span saam vir SOOIBRAND, terwyl kunstenaars soos Francois van Coke, Amanda Strydom, Jak de Priester, Rocco de Villiers en Luna Paige nuwe of spesiale produksies aanbied.
Die Zip Zap Circus maak hul eerste verskyning in die Klein Karoo met MOYA. Daar is ook vier dansteaterproduksies op die program.
Visuele kuns vorm deel van die feesaanbod onder die tema Grenslose gesprekke, saamgestel deur kurator Liza Grobler. nomThunzi Mashalaba is die feeskunstenaar vir 2026.
Die volledige program is beskikbaar aanlyn, met kaartjies wat via Webtickets en die KKNK-kantoor verkoop word.
KKNK 2026 word geborg deur Absa, met ondersteuning van die Het Jan Marais Nationale Fonds, NATi, Checkers, Netwerk24, kykNET, ATKV, Oudtshoorn Munisipaliteit, en die Wes-Kaapse Regering.
