DIE skorsing van drie raadslede van Icosa op 29 Julie deur die Kannaland-raad is deur die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, ongeldig verklaar.
Die Kannaland-raad het die drie raadslede, Jeffrey Donson, Werner Meshoa en Hyrin Ruiters, geskors na ’n ondersoek en verslag van Kannaland se speaker, Rodge Albertus. Dié skorsing was egter onderhewig aan die bekragtiging van Bredell.
Volgens die verslag van Albertus het die drie raadslede hulle skuldig gemaak aan die verkwistende besteding van openbare fondse.
Bredell sê egter in sy bevinding op 2 September dat daar verskeie gebreke was in die proses wat die raad gevolg het en dat hulle nie die prosedure gevolg het wat deur item 16 van die Gedragskode vir Raadslede voorgeskryf word nie. “In die lig van bogenoemde kan ek geen regverdige oorsaak in die huidige feite vind wat óf die skorsing, óf die verwydering van die betrokke raadslede kan ondersteun nie. Ek weier gevolglik om dit te doen.”
Volgens Bredell is daar in die dokumente aan hom verskaf nie voldoende bewyse om te bevind dat die raadslede oortredings gepleeg het nie en het die Kannaland Raad moontlik geheel en al staatgemaak op die verslag van die speaker, in plaas daarvan om sy eie ondersoek te doen.
Icosa het in ’n mediaverklaring op 5 September Bredell se bevinding verwelkom. “Icosa is dankbaar dat die oppergesag van die reg nog in ons land en in ons provinsie werk.”
Gert Uithaler, mediawoordvoerder van Icosa, sê in ’n verklarings dat Icosa die uitspraak as verblydend aanvaar, maar pleks van feesvier dit eerder beskou as ’n mandaat om goeie regering in Kannaland te vestig.
’n E-pos vir reaksie is aan Avontuur en Albertus gestuur, maar geen terugvoer is nog ontvang nie. (Deur Deon Meyer)
Kannaland: Skorsing van dié drie Icosa-raadslede was ongeldig, bevind minister
Jeffrey Donson