Kan ’n verhouding sonder meningsverskille, teleurstelling of verwerping werklik liefde wees – en wat gebeur wanneer ’n kunsmatige verhouding makliker raak as ’n menslike een?
Die Sky News-dokumentêr Robot girlfriends and cosplay dates: how love is changing in China wys hoe sommige jong mense romantiese bande met kunsmatige intelligensie (KI) en virtuele karakters vorm.
Een vrou sê sy stel nie in ’n gewone verhouding belang nie. Mense kan onbetroubaar wees en sy wil ook nie kinders hê nie. ’n Virtuele maat bied haar geselskap sonder die verantwoordelikhede en moontlike teleurstelling van ’n menslike verhouding.
KI-maats is reeds wêreldwyd beskikbaar. Gebruikers kan ’n digitale maat se naam, voorkoms en persoonlikheid kies en daagliks daarmee gesels.
Die aantrekkingskrag is maklik om te verstaan. ’n KI-maat antwoord wanneer jy wil praat, luister sonder om te oordeel en word nie moeg of geïrriteerd nie. Dit kan persoonlike besonderhede onthou en sy gesprekstyl by die gebruiker aanpas.
Vir iemand wat eensaam, sosiaal angstig of deur ’n verhouding seergemaak is, kan dié konstante aandag veilig voel.
Volgens kenners wat deur die American Psychological Association geraadpleeg is, het KI egter nie werklike emosies of empatie nie. Dit verwerk taalpatrone en lewer antwoorde wat soos begrip en omgee klink. Die gebruiker se gevoelens kan opreg wees, maar die emosie aan die ander kant word nageboots.
Menslike verhoudings vereis dat twee mense mekaar se behoeftes, grense en gebreke verstaan en daarvolgens hulself aanpas. Daar is konflik, kompromieë en versoening. By ’n KI-maat bly die gebruiker meestal in beheer. Wanneer iemand gewoond raak aan ’n maat wat altyd beskikbaar, geduldig en instemmend is, kan ’n werklike mens se behoeftes later ondraaglik begin voel.
Wanneer iemand geheime, vrese en begeertes eerder met ’n KI-maat as met ’n lewensmaat deel, kan emosionele intimiteit uit die werklike verhouding verskuif. Die mens maat kan uitgesluit of verraai voel, selfs al bestaan die derde “persoon” net op ’n skerm.
Mense wat hoofsaaklik op KI vir geselskap staatmaak, kry ook minder geleenthede om konflikhantering en respek vir ander se grense toe te pas en te verstaan.
KI kan wel tydelike ondersteuning bied. ’n Klein studie onder mense met hegte bande met KI-maats het bevind dat gesprekke hul gemoed op kort termyn kon verbeter. Dit kan egter nie die langtermynvoordele van menslike bande vervang nie.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie skat dat ongeveer een uit elke ses mense wêreldwyd eensaamheid ervaar. KI-maats vul dus ’n werklike behoefte, maar kan gebruikers ook die moeiliker werk van menslike kontak laat vermy.
Daar is boonop ’n privaatheidsrisiko. Intieme gesprekke kan gestoor en vir kommersiële doeleindes, menslike profiele of die opleiding van tegnologie gebruik word.
Kan dit in Suid-Afrika gebeur?
Daar is nog nie voldoende plaaslike navorsing om te bepaal hoeveel Suid-Afrikaners romantiese KI-maats gebruik nie. Die omstandighede waarin dit kan groei, bestaan egter reeds: slimfoongebruik, aanlyn afsprake, eensaamheid en finansiële druk.
Lang werksure, werkloosheid en die hoë koste van trou en kinders grootmaak kan tradisionele verhoudingsdoelwitte verder uitstel. Op kleiner dorpe is die maak van vriende ook dikwels beperk.
Hierdie veranderinge het lank voor die huidige KI-oplewing begin en kan nie net aan KI toegeskryf word nie.
Volgens Statistieke Suid-Afrika is 102 373 huwelike in 2024 geregistreer – 28,5% minder as in 2015. Die gemiddelde ouderdom van mense wat die eerste keer getrou het, was 36 jaar vir mans en 33 jaar vir vroue.
Die persentasie Suid-Afrikaners wat wettig getroud was, het van 35,6% in 1996 tot 23,8% in 2022 gedaal. Baie paartjies woon egter saam of bou langtermynverhoudings sonder om te trou.
Moederskap vind ook later plaas. Die gemiddelde ouderdom van ma’s het in 2023 tot 28,3 jaar gestyg – die hoogste sedert 2004.
Teenoor hierdie neiging bly tienerswangerskappe kommerwekkend hoog. Van die 848 337 geboortes wat in 2023 plaasgevind en in die verslagtydperk geregistreer is, was 102 406 – ongeveer een uit elke agt – jonger as 20. Dit sluit 2 311 geboortes aan meisies tussen 10 en 14 jaar in.
Hulpmiddel of plaasvervanger?
KI kan iemand help om gedagtes te verwoord, ’n moeilike gesprek te oefen of deur ’n eensame aand te kom. Dit raak problematies wanneer dit die enigste bron van emosionele ondersteuning word of menslike verhoudings begin vervang.
’n KI-maat kan geprogrammeer word om die gebruiker nooit te los nie, maar die diens kan verander, beperk of gesluit word. Die gebruiker besit uiteindelik nie die “verhouding” nie.
Die groter vraag is dus wat met ons vermoë tot menslike verhoudings gebeur wanneer liefde ontwerp word om altyd beskikbaar, voorspelbaar en sonder eise te wees.
Menslike liefde is moeiliker. Dit vra geduld, kwesbaarheid en kompromieë. Maar dit bied ook iets wat ’n algoritme nie kan gee nie: ’n ander mens wat uit eie wil kies om te bly. (ANGELIQUE ERASMUS)
Kan ’n KI-maat ’n menslike verhouding vervang?
KI-gegenereerde foto.