Kabeldiewe, vandale bring kommunikasie tot stilstand

Skade van sowat R10 000 is aangerig nadat vandale ’n elektriese omskakelaar beetgekry het en ook koperkabels gesteel het. Foto verskaf

GROOT dele van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit se kommunikasienetwerk was Dinsdagoggend buite werking na vandalisme en die diefstal van koperkabels en ’n elektriese omskakelaar (“inverter”) op ’n terrein aan Oudtshoorn se oostekant.

Volgens Ntobeko Mangwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, het die vandale ten spyte van die massiewe skade wat hul vandalisme tot gevolg gehad het, slegs die “inverter” en koperkabels ter waarde van ’n skamele R20 gesteel.

Die skade in randwaarde is egter groot. Slegs die koste van die “inverter” is sowat R9 000.

Die volgende afdelings van die munisipaliteit se inligtingstegnologie (IT)- kommunikasie-vermoëns is deur die van­dalisme lamgelê: vlootbestuur, afvalbeheer, die brandweer, die De Jager Sportkompleks, die Bridgton-oord, die welstandskantoor by die Toekomsrus Gemeenskapsaal, die Amy Bhiel Stigting se kantore by die Thusong Sentrum en die sentrum self, die Bongolethu- en Bridgton-kantoor en hul bilioteke, die elektrisiteitsafdeling, die kragstasie, die Klein Karoo Landelike Watervoorsie-ningskema (KKLWVS), die Dysselsdorp- en die De Rust-kantoor. (Deur Liesel le Roux)