Jong man wat saam met vriende roof kry tronkstraf

’N 19-JARIGE van Schoemanshoek wat saam met drie vriende ’n man van sy skootrekenaar, selfoon, kontant, ’n rugsak en ’n stel motorsleutels beroof het, is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof aan roof met verswarende omstandighede skuldig bevind en ses jaar gevangenisstraf opgelê.

Jaydrian Goliath het skuldig gepleit terwyl sy vriende nie voor die hof gebring is nie. Hy het erken dat hulle die aand van 6 Maart 2020 vir Dylan Loff met ’n mes gedreig en hom beroof het.

Goliath se regsverteenwoordiger, Lizanne Prins­loo, het die hof vir afwyking van die voorgeskrewe minimum vonnis van 15 jaar gevangenisstraf ge­vra omdat hy ’n eerste oortreder is en die skuld op hom geneem het. Die klaer het ook nie enige bese­rings opgedoen nie. Sy het gesê Goliath het by “verkeerde vriende” betrokke geraak.

Die staatsaanklaer, Corné Pretorius, het die hof vir langtermyn-gevangenisstraf gevra omdat dié soort misdaad algemeen in die hof se bedieningsgebied voorkom.

Streeklanddros Sylvia Mandla het met vonnisoplegging gesê die gemeenskap moet beskerm word.
“ ’n Gevaarlike wapen is gebruik om die klaer te dreig en dit moes vir hom ’n traumatiese ervaring gewees het,” het sy bygevoeg.

Sy het egter bevind dat 15 jaar tronkstraf ’n te swaar vonnis sal wees en daar wel buitengewone omstandighede bestaan om daarvan af te wyk.

Die vonnis van ses jaar gevangenisstraf sal die beskuldigde hopelik ook tyd gee om te leer uit sy foute, het die landdros gesê. (Deur Garnett Wicomb)

Be the first to comment on "Jong man wat saam met vriende roof kry tronkstraf"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*