Dief aan boom gebind en afgeransel

’N MAN van Bergsig in Calitzdorp wat by ’n huis ingebreek, op heterdaad betrap, aan ’n boom vasgebind en deur die eienaar afgeransel is, is verlede week in die Oudtshoorn streekhof vir sewe jaar tronk toe gestuur.
Die 34-jarige Dawid Pretorius is in die Calitzdorp Distrikshof skuldig bevind aan huisbraak met die opset om te steel.

Die saak is egter na die streekhof op Outshoorn oorgeplaas vir vonnisoplegging omdat Pretorius swaarder gestraf moet word as wat die distrikshof kan doen en ’n lang lys vorige veroordelings op sy rekord het.

Die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, het die hof vir langtermyn-gevangenisstraf gevra omdat vori­ge vonnisse wat Pretorius opgelê is, nie die gewens­te uitwerking op hom gehad het nie.

Volgens haar kan mense nie eers meer deesdae hul huise met geruste harte gedurende die dag verlaat nie.
Pretorius is in 2019 ook aan huisbraak en diefstal skuldig bevind en vyf jaar gevangenisstraf opgelê.

Hy is na ’n paar maande in die gevangenis op parool vrygelaat en het kort daarna weer ’n misdaad gepleeg.

Pretorius se regsverteenwoordiger, Cindy Murray-Smith, het die hof versoek om tog genade aan Pretorius, ’n pa van drie kinders, te betoon en in ag te neem dat hy skuldig gepleit het.

Streeklandros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê die saak toon dat die gemeenskap moeg is vir misdaad en daarom verkeerdelik die wet in eie hande neem omdat hulle nie nog vir die polisie wil wag nie.
Volgens die landdros was Pretorius op parooltoesig, maar het hy tog besluit om te oortree.

Vorige vonnisse wat hom opgelê is, het volgens die landdros ook nie vir Pretorius afgeskrik nie
Hy het wel skuldig gepleit, maar het geen ander keuse gehad nie nadat hy op heterdaad betrap is met twee selfone van die huiseienaar in sy sakke.

Die landdros het Pretorius ook gewaarsku dat hy ’n volgende keer tot gewoontemisdadiger verklaar kan word. (Deur Garnett Wicomb)

Be the first to comment on "Dief aan boom gebind en afgeransel"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*