Jeep-bestuurder maak moles op Calitzdorp

VERSKEIE Calitzdorpers het die naweek op sosiale media en hul kommer uitgespreek oor die wyse waarop ’n Jeep op die dorp bestuur is, met bewerings dat ’n bestuurder onder die invloed van drank in strate rondgery en mense se lewens in gevaar gestel het.

Volgens inwoners was die Jeep Saterdag (21 Augustus) binne die bestek van twee ure in twee insidente betrokke. Hulle was bekommerd dat onskuldige mense, kinders en diere beseer of moontlik dood­gery kon word weens roekelose en onverantwoordelike bestuur.

Daar word ook beweer dat die bestuurder nie die eienaar van die voertuig is nie.

Kapt Ian Meyer, stasiebevelvoerder van die Calitzdorp Polisie, sê dat die polisie Saterdag omstreeks 18:20 gereageer het toe hulle van die insidente te hore gekom het.

“Na bewering was die persoon dronk en het hy in ’n stadium in ’n heining vasgery. Toe die polisie op die toneel kom, was daar niemand in die voertuig nie, maar daar was wel mense wat rondom die voertuig gestaan het wat onder die invloed van drank was,” het hy gesê.

Volgens Meyer is een persoon op die toneel in hegtenis geneem, maar kan die polisie nog nie bevestig dat dit die bestuurder ter sprake was nie. (Deur Stefan Skapie Goosen)